Local news

Laeveld vleilandwetenskaplike vereer vir sy baanbrekerswerk

Vleilandwetenskaplike Hannes Marais se 39 jaar lange bydrae tot vleilandbewaring is onlangs met twee spesial toekennings vereer.

Hannes Marais (65), ’n bekende vleilandwetenskaplike, is in Oktober vanjaar tydens die Nasionale Vleiland-indaba in Kaapstad met ’n spesiale Stewardship-toekenning vereer vir sy baanbrekerswerk op die gebied van vleilandbewaring.

Dit volg nadat die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing hom in September ook erken het vir sy bydrae tot vleilandbewaring in Mpumalanga. Hy het ’n sertifikaat van erkenning ontvang.

LEES OOK: Oud-Nellie verwerf Eskom toekenning

“Dit is baie spesiaal om so ’n toekenning te ontvang. ’n Mens verwag dit nie. Dit is lekker om raakgesien te word,” vertel Marais.

Hy het in Augustus afgetree en ná 39 jaar finaal as vleilandekoloog by die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad gegroet. Sy loopbaan is gekenmerk deur talle prestasies, waaronder die ontdekking van vier nuwe krapspesies en die registrasie van twee Ramsar-terreine.

Hannes Marais se trofee.

’n Ramsar-terrein is ’n vleiland wat internasionale erkenning ingevolge die Ramsar-konvensie geniet. Dié internasionale verdrag, wat in 1971 in Ramsar, Iran, onderteken is, fokus op die bewaring en verstandige gebruik van vleilande en hul hulpbronne. Die doel is om die wêreldwye verlies aan vleilande te beperk en die volhoubare gebruik daarvan te bevorder.

Om as ’n Ramsar-terrein erken te word, moet ’n vleiland aan minstens een van nege internasionale kriteria voldoen. Dit sluit onder meer biodiversiteit, seldsaamheid en ekologiese waarde in. Marais het onder meer die De Berg- en Middelpunt-natuurreservaat vir Ramsar-registrasie geïdentifiseer. Hy is tans besig met die proses om die Santa- en Tim Tilden-Davis-natuurreservaat ook te laat registreer.

Tydens sy loopbaan as wetenskaplike het hy vier nuwe krapspesies ontdek, naamlik Potamonautes mariepskoppie, Potamonautes aurantius, Potamonautes valles en Potamonautes flavusjo.

‘n Potamonautes mariepskoppie.

“Ek het die veldwerk gedoen en die krappe versamel. Prof. Savel Daniels van die Universiteit Stellenbosch het die genetiese beskrywing gedoen,” verduidelik hy.

Marais het ook agt jaar lank as voorsitter van die Mpumalanga Vleilandforum gedien. Sy liefde vir vleilande en die natuur het egter reeds op ’n jong ouderdom begin.

“Ek onthou as kind het almal altyd gevra: ‘Waar is Hannes?’ Dan was ek besig om iets nuuts in die natuur te ontdek,” vertel hy.

Marais is op ’n plaas tussen Nigel en Heidelberg gebore en het later na Lydenburg verhuis nadat hy ’n pos in die dorp aanvaar het. Hy het sy loopbaan in die 1980’s as arbeider begin, waar hy aanvanklik verantwoordelik was vir die bestuur van ’n klein natuurreservaat.

Hy het later verskeie vleilande in die Laeveld bestuur voordat hy uiteindelik as vleilandekoloog by die parkeraad aangesluit het.
Deesdae spits hy hom toe op die skryf van artikels oor diere en hoop hy om sy eie onderneming, Escarp Plant Ecologist, op die been te bring.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button