Eerder bieg as lieg
Wel, ek sal maar eerder bieg as lieg. Ek lees liefdesverhale. Én geniet dit. So tussen die hordes ander boeke deur het ek iets nodig om my kop skoon te maak. Dalk soos ʼn happie suurlemoensorbet wat die palet neutraliseer tussen die verskillende gange van ʼn maaltyd. Dít is wat ʼn liefdesverhaal doen: Vee my kop skoon om plek te maak vir die volgende boek met 'n bietjie meer om die lyf.

Liefdesverhale. As ʼn resep werk, karring jy nie aan die bestanddele, hoeveelhede of metode nie. Jy volg die instruksies stap-vir-stap.
Wat het resepte met liefdesverhale uit te waai? Elke liefdesverhaal moet volgens ʼn spesifieke resep geskryf word. As die resep nie gevolg word nie, flop die gebak. Word die leser se romantiese snaar nie aangeroer nie. En dít is die hele doel met die liefdesverhaal: die leser moet ekstaties romanties voel. Veerlig en pragtig. Net soos die heldin.
Wel, ek sal maar eerder bieg as lieg. Ek lees liefdesverhale. Én geniet dit. So tussen die hordes ander “goeie” boeke (wat dit ook al mag beteken…) deur het ek iets nodig om my kop skoon te maak. Dalk soos ʼn happie suurlemoensorbet wat die palet neutraliseer tussen die verskillende gange van ʼn maaltyd. Dít is wat ʼn liefdesverhaal doen: Vee my kop skoon om plek te maak vir die volgende boek met ‘n bietjie meer om die lyf.
Die beeldskone heldin is altyd, maar altyd, selfstandig, vurig en hardkoppig. Daar is ook ʼn held. ʼn Ridder op ʼn witperd. Hy is sterk, dodelik aantreklik en dominant. Vat nie nonsens van kabouters nie. Gewoonlik blond met blou oë en ʼn blas vel. Of dalk ʼn broeiende donkerkop met swart oë.
In die liefdesverhaal is konflik en spanning van kardinale belang. En die speletjie van maak-of-jy-nie-belangstel-nie. Natuurlik speel romanse die grootste rol. Hope romanse.
En wat van eksplisiete seks? Fifty Shades of Grey is nié ʼn romanse nie. LAPA Uitgewers skryf op hul webwerf onder “Manuskripvoorleggings vir die Romanza-reeks”: “Hoewel seksuele spanning ’n noodsaaklike element is, is seksuele omgang nét toelaatbaar wanneer die twee hoofkarakters “committed” is. Die klem is altyd op die heldin se emosionele belewing, met geen eksplisiete of grafiese beskrywing van die seksdaad self nie. Die leser wil meegesleur word deur die delikate en sensuele ondertone. Sy wil die uitgestelde begeerte, die romantiese afwagting en die misterie van die liefde saam met die heldin ervaar en veral sáám met haar op die held verlief raak. Sy wil deel wees van die emosionele struikelblokke tussen die hoofkarakters en hoe hulle dit uiteindelik oorkom om ware geluk te vind in ’n romanse wat die toets van die tyd sal deurstaan.”
Nou ja. Liefdesverhale is in baie opsigte soos die Huisgenoot. Sommige vrouens lees dit glad nie omdat hulle dink dit is benede hulle waardigheid. Of hulle lees dit, maar wil dit nie erken nie. Ander, soos ek, foeter na jare uit die kas en erken dit openlik. Maar dalk nie sonder om te noem dat hulle reeds verskeie meesterstukke en klassieke werke agter die rug het nie… Dít gee hulle blykbaar toestemming om selfs die telefoongids (en Huisgenoot) te lees as hulle so voel!
Ai, dit is lekker om so nou en dan ʼn liefdesverhaal kaf te draf. ʼn Lekker LAPA-Romanza of Mills & Boon historiese romanse. Doen jouself ʼn guns en probeer een of twee. Jy mag dalk aangenaam verras wees…
