My beskeie klip in die Oscar-bos
Ek kan nou regtig nie anders as om nog 'n paar stuiwers in die Oscar Pistorius-beurs te gooi nie. Hierdie futiele behoefte om kommentaar te lewer, is soos om ʼn massiewe byenes aan die boom te sien hang. Ek weet ek gaan slae kry as ek my kop in die nes druk maar as gevolg van my ietwat vreemde geaardheid, wat ek self ook nie aldag verstaan nie, is daar net een uitweg: Ek móét loer wat in die nes aangaan. En dan vir die wêreld vertel wat ek van die binnekant dink.

Regter Thokozile Masipa, die vrou-van-staal in die warmste stoel op aarde, het die wêreld uit hul geloof in die Suid-Afrikaanse regstelsel geskok. Hoe kon sy? Die media en publiek het Oscar lank voordat die verhoor ‘n aanvang geneem het reeds aan moord met voorbedagte rade in die ergste graad skuldig bevind en verdoem. Hy is tot lewenslange tronkstraf in ‘n diep Middeleeuse kerker en sommer ook ‘n lekker spitbraai in die hel gevonnis. Barrie Roux het geappelleer. En Regter Masipa het dit gewaag om die skuldigbevinding en vonnis ter syde te stel. Die uitroepe van woedende verontwaardiging kon van hier af tot in die uithoeke van die hemel gehoor word.
Liewe genade. Of sal ek eerder sê “liewe ongenade”?
Honderde strafregkenners van oraloor het oor die afgelope 20 maande hul geleerde opinies tot vervelens toe gelig. Verder is ek seker een en almal kan teen hierdie tyd Snyman se Strafreg van voor tot agter resiteer. ‘n Mens doen tog sekerlik goed navorsing voor jy jou mond oor die reg rek, of hoe? Ek gaan nie óók nog myne oor die regsaspekte uitspoel nie!
Ek wil maar net sê:
Die wêreld het blykbaar niks beter om hulle mee besig te hou as om vir Oscar te hang nie.
Ek kan nou regtig nie anders as om nog ʼn paar stuiwers in die Oscar Pistorius-beurs te gooi nie. Hierdie futiele behoefte om kommentaar te lewer, is soos om ‘n massiewe byenes aan die boom te sien hang. Ek weet ek gaan slae kry as ek my kop in die nes druk maar as gevolg van my ietwat vreemde geaardheid, wat ek self ook nie aldag verstaan nie, is daar net een uitweg: Ek móét loer wat in die nes aangaan. En dan vir die wêreld vertel wat ek van die binnekant dink.
Hier is ‘n paar los gedagtes, my stuiwers in die beurs, my klippe in die bos:
Die hele Suid-Afrika is blykbaar geseën met die wysheid wat nawete bring. Ook met ongelooflike alsiendheid en die gawe om presies te weet wat op 13 Februarie 2013 in die woning van Oscar Pistorius gebeur het. Ek was egter verlig om te sien dat Regter Thokozile Matilda Masipa haar nie op hierdie wonderbaarlike eienskappe geroem en dit toegepas het nie.
In stryd met algemene publieke opinie, is Regter Masipa nie onder die naaste kalkoen uitgebroei nie. Sy het as ‘n misdaadverslaggewer gewerk voordat sy eers ‘n graad in maatskaplike werk en daarna ‘n regsgraad aan UNISA verwerf het. En dít tydens die vorige politieke bestel. Sy het haarself in 1991 as ‘n advokaat gekwalifiseer en is reeds sedert 1998 ‘n regter van die Tranvaalse Provinsiale Afdeling en het ook al in die Verkiesingshof van Suid-Afrika, onder andere, gedien. Net so terloops…
As dit ekself of iemand naby aan my was wat daar in die dokke gestaan het, sou ek gebid het vir ‘n billike verhoor. Wat is ‘n billike verhoor? Dit is ‘n moeilike begrip om te beskryf en daar bestaan, sover ek weet, nêrens ‘n gekwalifiseerde definisie nie. Ek wonder of ‘n media-verhoor in die graad waarin Oscar publiek verhoor is, ‘n billike verhoor is? Ek dink dat ons in die nabye toekoms navorsingsdokumente en proefskrifte daaroor sal kan lees – met die Pistorius-saak as gevallestudie. Die feit bly staan dat die hele publieke/media-verhoor teen my regsgevoel wat billikheid aanbetref, indruis. Ek voel dat geen beskuldigde in die omstandighede ‘n billike kans sou gehad het nie.
Aan die ander kant kan ek nie help om te wonder of hierdie hele media-verhoor eerder die staat as Oscar se saak benadeel het nie. Dink ‘n bietjie daaroor na. Dit kon moontlik tot gevolg gehad het dat die regter “versigtiger” in haar uitspraak was. Maar dit het dalk, aan die ander kant, ook veroorsaak dat sy meer drama in die hof toegelaat het. Ek wonder…
Tog weier ek om Regter Masipa se geloofwaardigheid op grond van openbare opinie in twyfel te trek. Ek dink tog dat sy Oscar wel aan moord sóú skuldig bevind het as Gerrie Nel moord bewys het. Die openbare oog was immers op haar. Sy is ‘n professionele regter met bykans twintig jaar ondervinding en ek dink nie dat sy haar deur emosies, politiek en openbare mening laat lei nie. Ek dink ook nie dat die regterpresident van die Noord en Suid Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof of selfs die hoofregter dit sou toelaat nie. Hulle het haar tog sekerlik met omsigtigheid aangewys om in hierdie spesifieke saak voor te sit aangesien hulle vooraf reeds die media-sirkus kon ruik.
Ek dink ook dat sy verseker die uitspraak eers gelewer het na oorleg met en onder mentorskap van die regterpresident en ander senior-regters. Die media en publieke oë het immers wêreldwyd ons regstelsel met ‘n valkoog dopgehou.
Ons verloor ook uit die oog dat sy twee assessore aan haar sye gehad het. News24 verduidelik die aspekte rondom die verhoor-proses mooi by https://www.news24.com/SouthAfrica/Oscar_Pistorius/Guide-to-being-tried-for-murder-in-South-Africa-20140516. Hier kan jy lees watter rol die assessore speel.
Die deurlopende, vooropgestelde publieke opinie in hierdie saak het my dikwels aan ‘n boendoehof of “kangaroo court” herinner. Wikipedia gee ‘n mooi omskrywing: “A kangaroo court is often held by a group or a community to give the appearance of a fair and just trial, even though the verdict has in reality already been decided before the trial has begun.” Wat meer kan ek sê? Afrika is bekend vir sy boendoehowe.
Waarom het die staat nie vir die maksimum vonnis van 15 jaar gevra nie? Dit laat my wonder…
Die woorde van Reeva se ouers aan BBC moet in gedagte gehou word. Hulle het skynbaar genoem dat hulle tevrede is en nou kan aangaan met hul lewens.
En wat sou Reeva sê as sy kommentaar kon lewer? Ek wonder maar net.
Nou moet ek ‘n paar belangrike vrae vra: Liewe aarde, waar het genade heen verdwyn? Wat het geword van ʼn versigtigheid om ʼn ander te veroordeel? Wat het geword van die vingers wat terugwys? Wat het van my eie sondes geword? Hulle is wel kleiner as Oscar sʼn, maar glo my, wyd verspreid, volhardend en gedurigdeur. Of is hulle ooit kleiner? Dit is seker debatteerbaar. Ek weet nie met wie nie, want my grootste sondes kruip diep in my hangkas weg…
Ek sluit af met Arnold Pisorius se woorde net na die skuldigbevinding van Oscar: “In a tragic event involving the death of a young woman, nobody wins.”
