
“Dank Vader jy’t in ‘n glasstuk getrap, want jy kan nie dans om jou lewe te red nie!”
Dit was die kommentaar van my metgesel by die matriekafskeid nadat ek hink-en-pink van die badkamer af teruggestrompel het. Dit was nou nadat ek per ongeluk ons tafel omgestamp het toe ek elegant huppel om ‘n vriend oorkant die tafel te gaan groet. Die tafelblad het nie eers gekantel nie, hy’t sommer eensklaps omgetiep sodat die glase vol alkoholvry sjampanje op almal se peperduur ontwerpersrokke uitgeloop het, voordat dit die vloer getref het. En toe trap ek in die glas… Mense reken ek is ‘n ongeluksvoël. Ek sal myself eerder as ‘n ongeluksvolstruis beskryf wat intussen haarself tot ‘n rampokker van roekeloosheid bevorder het.
Dit het alles begin met my onbeplande debuut as ontkleedanseres tydens die laerskoolrevue. Ek was 11 en – aanvanklik – as Elvis Presley geklee. Ouma Nine het ‘n Elvis-uitrusting aanmekaargestik wat skrik vir niks. ‘n Presley-krulkuif is met behulp van ‘n toiletrol op my kop geprakseer en ‘n silwer bandjielose bostuk het die nodige onder my baadjie bedek.”One for the money, two for the shoes, three to get ready…” het ek gebulder dat die hele Hoedspruit my kon hoor. ”Blue suede shoes” het geëindig met die baadjie wat doer waai. Die oorverdowende applous het nie daarop gevolg soos wat ek verwag het nie. Dis toe dat ek besef het dat die bostuk om die heupe sit.
Ek was min geskeel – darem was ek ‘n paar weke daarna ‘n dissipel in ‘n konsert by die kerk, wat darem morele balans aan die situasie sou verskaf. Min het ek geweet wat vir my voorlê. Die garderobe het uit my ma se 1980’s kerkrok bestaan en ‘n strandhandoek wat as tulband op die kop opgerol word. Die ooms en tannies staan toe gesellig met ‘n koppie tee in die hand en kyk na die gr. 5’e se opvoering van die klip wat weggerol word. Ek staan en kyk nog so vir die denkbeeldige klip toe daar ‘n bok oor die kerk se heining spring. Die ander dissipels was wys – hulle het opsy gestaan. Dissipel McGuyver het gehardloop… Met die bok agterna in Oom Bul van Reenen en sy koppie tee vas.
En dit was die begin van die einde.

