BlogsOpinion

Om in een stuk in Mazabuka-town uit te kom is ‘n uitdaging.

Om tot in Mazabuka reis, is 'n storie op sy eie. My ouers se geselskap maak die rit darem vermaaklik!

My ma en pa het gisteraand op opblaasmatrasse in hulle nuwe huis geslaap in Lusaka. “Sussie. we made it!” Hulle is nou stadsinwoners ná nege jaar in Mazabuka, of liewer “ons metropool,” soos my pa daarna verwys. Die vragmotor met hulle besittings is – Deo Volente –  sterk op pad.

Ek wonder of hulle dit gaan maak tussen so baie blankes, siende dat dié twee vir jare die enigste twee blankes in Mazabuka was. Of hulle baie geliefd was, weet ek nie. Toe my ma met trane in haar oë vir die bediende, Phiades, sê dat hulle gaan trek, het Phiades gereageer met: “Can I please have a photo of the dogs?” Die tuinier se reaksie was soortgelyk. Ek hoor darem dat daar ‘n omhelsing was voor hulle vertrek het en dat die bestuurder van die PEP-stores hulle vreeslik gaan mis. As PEP ‘n loyalty-card gehad het, het Mev Eloff met ‘n platinum weergawe gespog.

My en my broer se kuiertjies in Mazabuka was maar eentonig. Nadat jy op die lughawe land, word jy nie verwelkom deur die paspoortamptenaar nie. Hy wil weet wat jy hier soek.

“I’m visiting my parents.”
Hy wil weet wat hulle hier soek: “What are they doing here?”  “They work here, Sir.”
“Why?”
“Because they love it here. You have a beautiful country.”
“How long are you staying?”
“Fifteen days.”
“Do you have fifteen days?”
“Well you can ask my doctor and the man above.”
“No I mean we will check if we will allow that. Immigration rules.”

Dan staan jy en wag. Na ‘n paar minute mag jy deurstap om jou tas te gaan soek. Op ‘n mooi dag sal jou tas daar wees. My broer se tas was al per ongeluk in Tanzanië. Dan slaap jy maar oor en gaan haal dit die volgende dag. Of gaan koop klere by PEP en dink weereens aan al die voordele wat jy sou kon kry as hulle ‘n loyalty card gehad het.

Nadat jy jou tas gekry het, sien jy hoe al die gesinne mekaar emosioneel groet. Nie ons nie. My pa glo dat konflik dadelik afgehandelik word, sodat die res van die kuier sonder ‘n moordkuil in die hart kan verloop. Ek is nog skaars deur die glasdeure dan bulder hy van doer af: “Troje, (hy noem my so) wat het jy met jou hare gedoen? Dit kan nie so lyk nie. Netnou dink hulle jy doen gewigstoot! En ek weet jy het op jou foon gepraat toe jy die spoedkaartjie gekry het, jy sal betaal dat jy hop, met rente! En jy moet my help, ons moet dieet, ek word dik! En dieet is altyd goed, netnou kry jy nie ‘n man nie. Mens kan nooit te versigtig wees nie. O my hel dis warm! Kinders, julle moet emigreer na ‘n kouer plek toe. Onthou net, ons is mos eintlik Europees. Ek is nie vir hierdie hitte gemaak nie. Soek iemand ‘n draairromys? O nee, die dieet.”

Wanneer die post-praat-uitputting hom tref, kan almal anders ook gesels terwyl ons die een slaggat na die ander probeer vermy op pad huis toe. Die pad is kort, maar neem so twee na twee en ‘n half ure.

Mazabuka is ‘n stil dorpie en die mense is vriendelik. Hule loer skaam-skaam vir my en ek dink hulle kwalifiseer ons as ruimtewesens. Die kruidenierswinkel op die dorp is ‘n Shoprite wat aan basiese behoeftes voldoen. Daar’s nie ‘n kans dat jy te veel geld daar sal spandeer nie – die hele winkel ruik soos kapentas. Dis sulke klein vissies wat die mense daar soos aartappelskyfies eet. Die goed ruik nie lekker nie. ‘n Mens hou asem op, hardloop in vir die nodigste, betaal en hardloop uit.

Ons lees maar boek en drink ‘n whiskeytjie om die vuur op Vrydae vir ‘n week of twee. Wanneer ons regtig verveeld word, gaan kamp ons langs ‘n rivier of irriteer ‘n ouer.

Vakansies in Lusaka sal seker meer opwinding inhou, maar ek sal verlang na Mazabuka se niksheid.

Lees my vorige blog-inskrywing hier.

Mazabuka se hoofstraat.
Mazabuka se hoofstraat.
Mazabuka se kruidenierswinkel voorsien aan basiese behoeftes.
Mazabuka se kruidenierswinkel voorsien aan basiese behoeftes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button