
“Die lyn, sussie, die lyn. Ouma weet dis ‘n ewige stryd, maar dink aan die lyn.”
My familie hou daarvan om op diëte te wees. Wanneer hulle nie op een is nie, praat hulle oor wanneer die volgende dieet aangepak gaan word. Die spulletjie is nie bang om mekaar daarop te wys waar ‘n nuwe vetrol sy verskyning gemaak het nie. “Nee, jy word nou lekker dik. Jy moet iets daaraan doen.” Voor jy jou oë uitvee, ontvang jy ‘n e-pos van ‘n vrugteslaairesep en sopdieet. En daar word gereeld verneem hoe die dieet vorder. Takt is nie hoog op die agenda nie.
Toe ek in 2007 vir die Desembervakansie huistoe vlieg, was dit met ‘n volle ekstra 10 kilogram. Die lughawe het my gelukkig nie ‘n oorgewigboete gegee nie – klein wonderwerkies waarvoor ‘n mens kan dankbaar wees is ‘n ongelooflike ding. Nadat ek van die vliegtuig afgeklim het, het my pa my dit laat hoor: “Og heiden kind, wat heb je dik geworden!” Ons dieet is breedvoerig beplan en ons het die volgende oggend sopbestandele by Shoprite gaan koop.
Die eetlus het aanhoudend die oorhand gekry en ek het besluit om eetlusdempers op die proef te stel. Ek en my ma is toe na Mazabuka se apteek toe, waar die apteker verduidelik het dat hulle nie eetlusdempers aanhou nie. Die land se mense eet nie te veel nie. Inteendeel, die oorgrote meerderheid het nie altyd kos nie. Ek besef toe dat my versoek dalk sosiaal onsensitief is en gaan klop toe by agterstraatapteke in Lusaka aan. Daar kry ek toe ‘n pakkie pille met ‘n briljante naam: NOBESE. Die naam het my oortuig en my dieet het skop gekry.
Hierdie pille is intussen van die mark afgehaal, omdat dit pseudo-efidrien bevat. Dis heeltemal verstaanbaar, want ek kan getuig dat die goed ‘n mens so mal soos ‘n haas maak. Ek het wel groot sukses behaal met die eetplan – drie koppies sop ‘n dag en een sjokolade per week.
Op die oggend van my verjaardag, het ek besluit om myself te bederf met ‘n bakkie 2 Minute Noodles. Salig. Ek het ‘n strandstoel na buite gedra, ‘n glasie gaskoeldrank ingegooi en myself met die bakkie koolhidrate op my skoot geposisioneer. Mmmmmm. Die afwagting was iets uit ‘n ander wêreld. Ek het my mond stadig oopgemaak soos ‘n verleidelike vrou in ‘n roomysadvertensie en stadig gehap. ‘n Vlieg het in my mond ingevlieg.
Dít het ek nie gesien nie, want my oë was toe. Ek het bewus geword van die vlieg se teenwoordigheid toe ek sluk en hy iewers tussen my mond en my neus beweeg. Toe word ek naar en smyt die bakkie eenkant toe. Ek was propvol pseudo-efidrien, honger en kwaad. Al wat nou sou help, was ‘n sjokolade.
So is ek toe met die viertrekvoertuig winkel toe. Die pad was lelik en dit was ‘n gesukkel totdat ek uiteindelik ná ‘n uur met die sjokolade in my hand tuisgekom het. Hierdie keer het ek die lugverkoeler aangeskakel en op my bed gaan lê met ‘n boek in die hand. Enya het saggies in die agtergrond gespeel en ek het my op my rug neergevly. Die sjokolade het op my bedkassie gelê en wag terwyl ek gou kombuis toe is vir ‘n glasie koeldrank.
Benji was ons bull terrier met ‘n voorliefde vir beskuit, sjokolade en biltong. Ons honde word nie hierdie versnaperinge gevoer nie, ons het haar so gekry. Dít het ek nie geweet toe ek die sjokolade op die bedkassie los nie.
Who can say where the road goes
Where the day flows
Only time
Toe ek terugkom, merk ek dat die sjokolade nie meer daar is nie. In die hoek van my kamer staan Benji vir my met sulke “dit was ek”-oë en kyk. ‘n Chocolate Log-papiertjie het voor haar gelê. Toe duik ek haar en tref haar teen só hoek dat die stomme hond oor die gladde vloer tol. Sy het drie keer getol, haar kop geskud en stert-tussen-die-bene weggeloop.
Sail away, sail away, sail away het nog in die agtergrond gespeel toe ek die radio met ‘n skoen gooi.
Ek ry toe maar weer Shoprite toe vir ‘n sjokolade en het nog nooit weer NOBESE gedrink nie.
Vir vorige blog-inskrywings deur Helene, lees hier:
Om in Mazabuka uit te kom is ‘n uitdaging
‘Dis hoe jy ‘n rugbyspele vang,’ het sy gedink
Konstabel, Heidi het my ID geëet
