
Vir party van ons is die Laeveld ‘n blyplek wat ons uitgekies het. Ander moes agter ‘n werk aan hierheen verhuis het. Hier en daar het een getrek vir liefde. In daardie geval hoop ek die voorhuwelikse kontrak is goed aanmekaar getimmer. Persoonlik woon ek hier omdat die rampe my oorval wanneer ek my voete buite die Laeveld sit.
So was dit weer die afgelope naweek. Die rampe is darem relatief klein en my goeie sin vir humor laat my daaroor lag. Maar o weë. Ek sal vir altyd hier moet bly – in ‘n huis van Tupperware. My bestaan is eenvoudig te riskant vir enige alternatief.
Sedert ek in Januarie 2013 hierheen verhuis het, het ek Pretoria ‘n paar keer besoek. In Februarie verlede jaar is ek my bril in ‘n danssaal kwyt. Gelukkig kon ek ‘n koeriermaatskappy kry om die bril af te lewer. Gawe mense.
Twee vriende het my vergesel toe ons Vrydagmiddag hier weg is en hulle het omtrent vuisgeslaan om te bestuur: “Solank jý net nie die stuurwiel beet het nie!” moes ek aanhoor. Ek het dit so verstaan en aanvaar. Die drie van ons het veilig in Pretoria aangekom en ek het by my vriendinne in Clydesdale aangesluit. Dit was die begin van ‘n reeks rampe.
Ek het my kar langs ‘n wit Golfie parkeer en my vermoede is deur die bestuurder daarvan bevestig: “Jou kar kan vir die oomblik hier staan. Jou kar is ‘n Fiësta en hulle sal myne steel voordat hulle vir joune terugkom. Dalk sal hulle die een gebruik om die ander een mee te sleep.” Ek is gerusgestel deur die feit dat my kar outomaties is en nie gesleep kan word nie. Toe die man met sy Golfie daar weg is, moes ons my kar skuif.
Veilige parkering by ‘n restaurant in die omtrek was goed genoeg en my sleutels is toe sommer as sekuriteit vir ons rekening by die plek aangebied toe ons daar eet. Dit laat my dink aan die keer toe ek my identiteitsdokument as sekuriteit vir my rekening aangebied het. Dit het nie goed afgeloop nie.
• My haarband is hierna van my kop af gesteel. Aangesien ons met meer as een kar by die restaurant was, is ons toe van die een plek na die ander sonder om ooit die sleutels terug te kry. Ons het darem die rekening betaal. Daarvandaan is ons na ‘n ruk-en-rolvertoning toe ek skielik voel hoe iemand verby my storm en iets van my kop af gryp. Só is ek van my haarband vervreem. Dit was my gunsteling een! Daar is wel ‘n aantal vriende wat hieroor verheug sal wees, omdat ek al baie kommentaar oor die luiperdvel-motief daaroor moes duld. Ek bly toe maar sit, omdat dit heeltemal te veel moeite sou verg om die haarbanddief agterna te sit.
• Vervolgens was my karsleutels soek: Saterdag was my goeie vriendin se troudag en ek het my kisklere aangetrek (dis ‘n groot woord vir uitgaanklere). Toe ek op my hoëhakskoene by die deur uit is, tref dit my dat my karsleutels weg is. Ek het yskoud geword en begin rondbel, sonder sukses. Ek is met ‘n rygeleentheid na die troue toe en was natuurlik laat. Die wonderlike vrou wat my gr. 12-Afrikaanse juffrou was, wat my deur matriek gehelp het (en ‘n honorus crux- nominasie daarvoor verdien), het my jammer gekry en my kom haal. Ek kon gesig wys by die troue en weer verder sleutels soek. “Ag ek weet nie wanneer ons môre terugry nie, ek is rustig” was my antwoord wanneer my twee passassiers gevra het hoelaat ons Sondag ry. Intussen het ek dit oorweeg om met die Citybug Mbombela toe te ry, my spaarsleutels te kry en hulle dan op te laai. Ek het élke koerierdiens op die internet gebel en was gereed om spontaan heen te gaan toe Mariska uiteindelik met my sleutels opdaag. “Ons het dit by die restaurant vergeet. Eureka!”
• ‘n Hond het my tablet gekou: Die drama was nie verby nie. My tassies het gereedgestaan vir die terugtog Laeveld toe, toe Mariska vra waar presies ek my tablet met my aankoms gebêre het. “Hoekom?” Dit blyk toe dat Sherlock aan hom gekou het. Sherlock is ‘n basset. Die tablet is vrot van die koumerke, maar werk darem nog. Tien uit tien vir Lenovo wat weet hoe om die goed aan mekaar te sit.
• Die metropolisie het weer met my skoor gesoek: Twee van ons het tot in Brokhorstpruit gery, waar ons ‘n derde passasier langs die pad opgelaai het. Dit het seker maar agterdog aangewakker. Dis verstaanbaar, met al die gevalle van menseroof wat deesdae so opduik. Die metropolisie het ons afgetrek en behoorlik gekasty omdat ons die vermetelheid het om iemand sommerso in die pad op en af te laai. Ons het eerder nie uitgewys dat ons die persoon egter langs die pad, en nie op die teerpad opgelaai het nie.
Ons beveel die passasier toe maar om in die kar te klim en ry verder.
Terug in die Laeveld moes ek Maandagoggend opmerk dat iemand my kar met ‘n sleutel gekrap het.
Nee wat, Gauteng. Dit was genoeg vir een week.
Lees vorige insetsels hier:
Om in Mazabuka uit te kom is ‘n uitdaging
‘Dis hoe jy ‘n rugbyspeler vang,’ het sy gedink
Konstabel, Heidi het my ID geëet
Van Obese na NOBESE – ‘n resep vir chaos
