BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

Die een wat deur die nag ons pret beloer

Ek wonder oor die sterftes. Oor die grafte. Oor die treurendes. Ebola het in 2014 in die omgewing van 8 000 slagoffers oor ’n wye area geëis. Maar net in 2013 is daar na raming meer as 250 000 Suid-Afrikaners as gevolg van vigs dood. Suid-Afrikaners. Tweehonderd en vyftig duisend grafte. Miljoene geliefdes in rou smart en armoede gedompel. Die begrafnis-industrie is nie verniet so ’n winsgewende besigheid nie.

Ek gooi diesel in. Dank die Heer dat die prys nou meer billik is. My sak beter pas. Bekyk die wêreld om die tyd langs die petrolpomp te verwyl – dankbaar dat die joggie 2014 se goggas van die ruit afseep.

My oog vang ‘n man. Hy pomp die werksbakkie se bande terwyl die werkgewer toekyk. Hy is brandmaer. Selfs onder die oorgrote overall kan ek sien dat hy niks meer as 50 kg weeg nie. Sy gelaatskleur is dof, sy gesig is vol knoppe en sy wangbene en spierwit tande staan prominent uit.

Hy is duidelik niks meer as ’n skadu van die man wat hy eens was. Die Engel van die Verderf het hom skelm kom besoek. Soos Eugene Marais met wysheid gedig het: “Die een wat deur die nag ons pret beloer en laaste lag is Skoppensboer.”

Ek het ’n klompie jare gelede besluit om in te skryf vir ’n LLD-graad. Drie jare later sou ek tevergeefs op moedverloor-se-vlakte sit en huil terwyl ek wonder wat my besiel het. Maar dít is ’n storie vir ’n ander dag…

Die titel van my proefskrif was “Die Impak van die MIV/vigs-Pandemie op Sekere Aspekte van die Suid-Afrikaanse Kinderreg”. ’n Interessante tema wat baie navorsing gekos het – die uiteindelike bronnelys het om en by 30 bladsye beslaan. As deel van die navorsing moes ek álles rondom MIV/vigs nalees – die oorsake, simptome, impak en verloop van die siekte sowel as statistieke rondom die verspreiding, sterftesyfers, impak ensovoorts.

Toe die proefskrif in 2008 verskyn het, was die MIV/vigs-statistieke reeds duiselingwekkend hoog. Op daardie tydstip – dit is nou net meer as vyf jaar gelede – was om en by 18,8% van Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 15 en 49 MIV-positief. 240 000 Suid-Afrikaanse kinders het ook positief getoets en 1,2 miljoen kinders onder die ouderdom van 17 jaar was reeds wees gelaat as gevolg van die pandemie.

Volgens UNAIDS (Joint United Nations Programme on HIV and AIDS) was tussen 5,7 en 6,2 miljoen (om en by 19,1%) Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 15 en 49 jaar in 2013 MIV-positief. Dit sluit nié jonger en ouer mense in nie.

Ek sidder om te dink wat hierdie syfers in die jaar van onse Heer 2015 moet wees.

Hierdie is nie ’n lesing in MIV/vigs nie. Die man by die petrolstasie het my bloot laat wonder.

Ek wonder wat die MIV-syfers werklik is. Ek vermoed dat dit veel hoër as die amptelike statistieke is. Volgens die Departement van Gesondheid was die voorkoms in 2012 maar 12,2% van die totale bevolking – veel laer as die UNAIDS en ander beskikbare statistieke. Verder is MIV/vigs, sover ek kan vasstel, stééds nie ’n aanmeldbare siekte nie. Dit beteken dat dit bykans onmoontlik is om agter te kom of iemand wel aan vigs oorlede is. Indien ’n MIV-positiewe persoon aan ’n sekondêre infeksie, byvoorbeeld TB, sterf, word die oorsaak van dood op die doodsertifikaat as “TB” aangedui en nie as “MIV/vigs” nie.

Ek wonder oor die regering se inisiatief om MIV-positiewe persone gratis met teen-retrovirale middele te behandel. 2,4 miljoen Suid-Afrikaners het reeds hierdie terapie ontvang. My probleem lê nie by die behandeling nie. Ek dink dit is ’n edele inisiatief. My probleem lê by die feit dat die RGN in 2012, in ’n verslag getiteld “National HIV Prevalence, Incidence and Behaviour Survey”, bevind het dat kennis van hoe MIV oorgedra en voorkom word afgeneem het van 30,3% in 2008 na 26,8% in 2012. Kan jy jou indink dat daar in 2015 steeds Suid-Afrikaners bo die ouderdom van 10 jaar is wat nie weet hoe MIV oorgedra en voorkom word nie?

Ek wonder hoe op aarde die miljoene kinders van MIV-positiewe, sterwende en reeds-oorlede ouers cope. Die gedagte laat my maag omkeer en ’n benoude gevoel in my keel opstoot. Volgens UNAIDS was 2,4 miljoen Suid-Afrikaanse kinders reeds in 2013 wees gelaat as gevolg van MIV/vigs. Dit sluit nie kinders wat saam met ’n MIV-positiewe persoon in ’n huis woon in nie. Die simptome waaraan die kinders blootgestel word voordat die ouer sterf sluit moegheid, koors, gewigsverlies, droë hoes, geweldige diarree, gesigverlies, naarheid, stuiptrekkings en hoofpyne in. Hoe cope enige kind, wat nog te sê ’n skoolgaande kind, hiermee? Dan is daar nog die sosio-ekonomiese impak op die huishouding: armoede, voedseltekorte, ’n tekort aan geld vir gesondheidsorg, die verlies aan verblyf, voortydige skoolverlating ensovoorts.

Ek wonder ook oor die gedesensitiseerde samelewing waarin ons lewe. Verby hoeveel mense ry ek elke dag wat MIV-positief is? Sien ek nog die grys ou gogo met die baba op die rug? Haar dogter is verlede week aan vigs dood en sy moet nou na die vier weeskinders onder 10 jaar omsien. Wonder ek ooit oor die slagoffers? Die onskuldige slagoffers?

Ek wonder oor die sterftes. Oor die grafte. Oor die treurendes. Ebola het in 2014 in die omgewing van 8 000 slagoffers oor ’n wye area geëis. Maar net in 2013 is daar na raming meer as 250 000 Suid-Afrikaners aan vigs dood. Suid-Afrikaners. Tweehonderd en vyftig duisend grafte. Miljoene geliefdes in rou smart en armoede gedompel. Die begrafnis-industrie is nie verniet so ’n winsgewende besigheid nie…

Ek wonder. Ek wonder. Ek wonder. Ek bid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button