“Weird” is ‘n lekker woord – verál in Suid-Afrika
Die laaste ruk het ek talle “weird”-hede (verskoon asseblief die aaklige term, maar dit sê dit soos dit is) raakgelees. Veral in die nuus. Gebeure raak al hoe meer bisar en ek vind soms geen logika in berigte nie. Wel, daar is die meeste van die tyd niks met die beriggewing verkeerd nie. Die bisarriteit lê in die onderwerp van die beriggewing.

“Weird” is ’n lekker woord wat ons in die hoërskool algemeen gebruik het. So dan en wan glip dit in my huidige woordeskat in. Nou die dag vra die kinders wat dit nou eintlik beteken. Ek probeer verduidelik maar wend my op die ou einde tot die woordeboek: onheilspellend, aaklig, naar, eienaardig, sonderling, bonatuurlik, spookagtig. Net twee van die sinonieme het op mý begrip en gebruik van die woord toepassing: “Eienaardig” en “sonderling”.
Die laaste ruk het ek talle “weird”-hede (verskoon asseblief die aaklige term, maar dit sê dit soos dit is) raakgelees. Veral in die nuus. Gebeure raak al hoe meer bisar en ek vind soms geen logika in berigte nie. Wel, daar is die meeste van die tyd niks met die beriggewing verkeerd nie. Die bisarriteit lê in die onderwerp van die beriggewing. En spesifiek in Suid-Afrikaanse nuusberigte.
Nog nooit het ek die term “from hero to zero and back” so goed verstaan nie. Ons almal weet wie Jackie Selebi was. En blykbaar steeds is. Hy het immers in die laaste week die nuus oorheers en dit is duidelik dat sy gees en invloed voortlewe. Mense het met gemengde gevoelens kommentaar gelewer – soos nét Suid-Afrikaners kan. Nou lees ek op News24 dat die ANC vir sy begrafnis gaan betaal. Woordvoerder, Zizi Kodwa, verklaar: “It was agreed with the family that the African National Congress will be allowed to bury comrade Jackie Selebi who has been for most of his life at the centre of the organisation’s leadership.” Wat kan ek sê, behalwe: “Weird.”
Verlede week nader ’n groep tieners ’n Somaliese spazawinkel in Soweto met bose bedoelings om die eienaar te roof. Senosi Yusuf besluit om homself en sy goed te beskerm en brand los op die groep. Simphiwe Mahori, 14 jaar oud, word noodlottig gewond. Hierdie enkele gebeurtenis lei tot plundering wat steeds die nuus oorheers. Blykbaar het verskeie lede van die SAPS saam geplunder. Verder verklaar die regering dat hulle, ten spyte van die feit dat buitelandse spazawinkels en besighede geteiken word, nie die geweld en buitery as xenofobies beskou nie. Die kersie op die koek is, volgens News24, die feit dat die Gautengse provinsiale regering nou vir Simphiwe Mahori se begrafnis gaan betaal. Wat kan ek sê, behalwe: “Weird.”
News24 berig dat daar ’n lasbrief vir arrestasie teen Edward Zuma, President Jacob Zuma se seun, uitgereik is aangesien hy agterstallig is met die betaling van onderhoud. Hy ignoreer sedert verlede jaar alle dagvaardings om in die onderhoudshof te verskyn. In die agtergrond is die Suid-Afrikaanse wetgewing rondom die betaling van onderhoud besig om drasties strenger te raak. Indien die Wysigingswet op die Wet op Onderhoud, 2014, deur die parlement goedgekeur word, gaan onderhoudspligtiges hulle rieme styf loop. Moedelose toesighoudende ouers sal in die vervolg minder sukkel om onderhoudspligtiges wat agterstallig is met die betaling van onderhoud, voor stok te kry. Verder bepaal die Onderhoudswet dat ook grootouers vir die betaling van onderhoud van hul kleinkinders gedagvaar kan word. Dalk moet die klaagster die oupa van die Zuma-kind dagvaar vir onderhoud. Dit behoort vir interessante leesstof te sorg… Wat ek eintlik wil sê, is: “Weird.”
Die woord “load shedding” het volksbesit geword. Ongeag van huistaal, weet alle Suid-Afrikaners, ryk en arm, wat die woord beteken. The Witness berig dat ’n ou kragstasie naby New Castle nou vir skrootmetaal gestroop word. Volgens bronne kon hierdie kragstasie die helfte van Johannesburg vir ’n verdere 20 jaar van krag voorsien het indien die plek behoorlik onderhou is. Wat kan ek sê, behalwe: “Weird.”
So van skrootmetaal gepraat. Volgens The Mercury het diewe antieke loodglasvensters uit ’n 150 jaar oue kerk gesteel. Hulle was blykbaar agter die lood aan wat vir skroot verkoop kan word. Wat kan ek sê, behalwe: “Weird.”
En so kan ek aangaan.
Soms raak ek woedend kwaad. Soms lag ek lekker uit my maag uit. Soms oorval die hartseer en nostalgie my. Vir hierdie pragtige land waarvoor ek so lief is. Ten spyte van dit en ten spyte van dat. Ten spyte van al die “weirdness”, moet ek bieg: Ek is lief vir Suid-Afrika. Die blou van die hemel, die dieptes van die see en die ewige gebergtes lê diep in my bloed.
Maar wat kan ek sê, behalwe: “Weird”? En dalk:

