Oor verlange wat teen die borsbeen beur
Ek wonder vanoggend. As ek hom nou weer een maal hier op aarde kon sien. Sy benerige Parkinson-vingers tussen myne vat. En hy vra na sake in die land? Wat sou ek sê? Wat sou ek vertel? En wat sou sý reaksie wees?

“Ek verlang elke dag. Na jou slimmigheid. Jy wou so graag alles weet. Na jou stem met die swaar Kaapse bry. Na jou ensiklopediese brein en na jou terggees. Ek verlang. Na jou komposhoop en bonsais. Na jou versameling National Geographics en na jou Grasshoppers. Na jou oë wat gesteurd opkyk van die boek en na jou whiskyglas met die goue rand. Ek verlang na jou deurmekaar tuin en na die smaak van boomgom. As ek rooibeet eet verlang ek. As ek kyk hoe my oudste sy hande vou – net so presies soos jy, verlang ek. Ek verlang na jou humor en jou stories. Is daar, Oupa Bruwer, in die hemel hoop vir verlange? Wat so pynlik teen die borsbeen beur?”
Jonathan Minnaar Bruwer is op 8 April 1924 in Robertson gebore. Een van ses kinders – vyf seuns en een dogter.
Ek wonder vanoggend. As ek hom nou weer een maal hier op aarde kon sien. Sy benerige Parkinson-vingers tussen myne vat. En hy vra na sake in die land? Wat sou ek sê? Wat sou ek vertel? En wat sou sý reaksie wees?
Op die gemors by ESKOM en Telkom en SAA en die Poskantoor? Op SONA, die EFF en die parlementêre krisis? Wat sal sy reaksie wees op plaasmoorde, misdaadsyfers en die e-tol-stelsel. Op die dreigement van ’n polisiestaat? Op Jan van Riebeeck en die onderlinge stryd tussen Afrikaners? Wat sou hy dink van die boikot van kunstefeeste en van Steve Hofmeyr?
Ek wonder.
Wat sal mý reaksie wees as hy die GROOT vraag vra? Ek dink ek sal vir ’n oomblik stilbly, ’n groot glimlag gee en met oortuiging antwoord: “Oupa, dit gaan voor die wind in Suid-Afrika. Die ekonomie bloei en die misdaadsyfers is laer as ooit. Ons is gelukkig. Sien ’n mooi toekoms vir ons kinders. Oupa, rus in vrede. Daar in die hemel waar alles mooi en goed is. En hou my plekkie warm. Moenie oor jou kinders op aarde bekommerd wees nie.”
En dan sal ek op die koop toe met oorgeërfde humor en stoutgeit bylas: “Die HNP het herlewe en uiteindelik ’n paar stoele in die Nasionale Vergadering losgeslaan!”
