Woorde na aanleiding van Christelle Lubbe se dood
Die tragiese nuus rondom die ernstige ongeluk en Christelle se afsterwe het my hierdie week aan die hart beetgekry – reg op daardie tranerige plek waar smart en hartseer nesskop en salig onbewus van enige verwoesting en lyding gemaklik-warm broei. Ek was en is steeds stom-verslae: Die enigste ding erger as ’n bloedjong ma wat sterf, is wanneer ’n kind vóór die ma sterf. In hierdie geval het die ma gegaan en die pa bly agter. Met drie pragtige jong kinders. In die week wat verby is, het die Here vir Christelle Lubbe geroep en sy het gegaan.

Toe ek vir Laevelder begin blog het, wou ek graag oor geestes-dinge skryf. Dit is waar my passie lê. Dit het nie so uitgewerk nie. Ek het tog besluit om nou in hierdie blog iets met lesers deel. Iets oor geestesdinge.
Ek het nog nooit, sover ek kan onthou, vir Christelle en Jaco Lubbe ontmoet nie. Tog het die tragiese nuus rondom die ernstige ongeluk en Christelle se latere afsterwe my aan die hart beetgekry – reg op daardie tranerige plek waar smart en hartseer nesskop en salig onbewus van enige verwoesting en lyding gemaklik-warm broei. Ek was en is steeds stom-verslae: Die enigste ding erger as ’n bloedjong ma wat sterf, is wanneer ’n kind vóór die ma sterf. In hierdie geval het die ma gegaan en die pa bly agter. Met drie pragtige jong kinders. Ek kan my nie die pyn en lyding indink nie. En gaan ook nie probeer nie – my beurt sal immers nog kom. Géén aardling is gevrywaar nie…
In die week wat verby is, het die Here vir Christelle Lubbe geroep en sy het gegaan. (Lees die volle berig deur Laevelder.)
Facebook het gegons met netelige, moeilike vra. Waarom op hierdie aarde moes dit gebeur het? Gaan daar vir hierdie gesin en familie nooit vrede en genade wees nie? Waarom gebeur goeie goed met slegte mense en slegte goed met goeie mense? Met mense wat naby aan die Here lewe? Waar is God in elk geval as tragedie toeslaan? Wat het van wonderwerke geword? Dalk soos mis voor die son verdwyn twee millennia terug? Gee Hy om? Of gaan dit maar, after all, hier op aarde soos Betty Midler sing: “God is watching us from a distance”?
Een van my Facebook-vriende het met reg verklaar dat sy kwaad is. Vir God. Nie net kwaad nie, maar woedend. Sy het eintlik maar net die moed gehad om hardop uit te spreek wat almal, ek inkluis, dink. Ek kan aflei dat sy naby aan die Lubbe-gesin is. Hulle goed ken. En hierdie ding het haar geruk. Sy leef ook naby aan God. Ek kan dit baie duidelik uit haar Facebook-bedrywighede aflei. Tog het sy hierdie week gestoei. Net soos Jakob en later Job ook. Met al die moeilike lewensvrae wat gelowiges én ongelowiges soms vra. Gelowiges smeek die Een met wie hulle in die verhouding staan om antwoorde terwyl ongelowiges die vrae en ontwykende antwoorde dikwels as rede aanvoer waarom hulle nié in ’n verhouding met God staan nie.
Ek het geen antwoorde op die vrae nie. Geen. Die antwoorde wat wel deur my kop maal bring net meer, nóg moeiliker vrae. Elke tree van die pad wat gelowiges met pyn, smart en lyding stap, is moeilik. Die pad self is smal, klipperig, kronkelend en onmoontlik steil – al op die rand van ’n bodemlose diepte wat in die hartjie van die aarde in gaap.
Gisteroggend lees ek Job 38. Job 38 is God se monoloog nadat Job en sy vriende vir dae lank gerou het oor en gestoei het met al die verskriklike dinge wat Job oorgekom het. Job 38 is moeilike verse wat, volgens my, nie spreek van ’n simpatieke God nie. God praat in die geskreeu van ’n stormwind en in die eerste sin maak Hy reeds sy oogpunt bekend: “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?” In plaas daarvan om netjies geordende antwoorde op al Job en kie se vrae te verskaf, gebruik God sy eie vrae om hul onkunde te beklemtoon. Die Bybel in Praktyk skryf: “In plaas daarvan om vir hom [Job] antwoorde te gee, het die Here sy onkunde oor die orde in die natuur gebruik om ook sy onkunde oor God se geestelike orde aan hom te openbaar. As hy nie eens die tasbare geskape werklikheid kon verstaan nie, hoe kon hy verwag om God se karakter te verstaan?”
Uiteindelik het ek, voos gedink en gewonder, vir Dr. Stephan Joubert[1] per e-pos om antwoorde genader. Nadat ek Job 38 gelees het en ten einde raad. My en Stephan se paaie het al verskeie male as gevolg van my joernalistieke werk gekruis en ek het die grootste respek vir sy mening oor geloofsake.
Stephan het my dadelik geantwoord en dit is duidelik ’n onderwerp waarmee hy ook al nagte en dae om geworstel het:
“Oi, dis verskriklik. Dit klink soos Job se storie. Lux Verbi het pas een van my boeke, Dit kos guts om te glo, heruitgegee. In hierdie boek het ek uit verskeie hoeke met vrae rondom swaarkry geworstel. Ek het ook einde verlede jaar ’n boek, God is Genoeg, by CUM uitgegee. In hiérdie boek weer stoei ek met die ‘consumerist’-idee dat God ons gedurig net ‘stuff’ moet gee. Vele hou derhalwe op glo as Hy nie meer alles voorsien wat die lewe aangenaam of voorspelbaar en veilig maak nie. Jesus is nie meer genoeg nie; die dinge wat Hy moet doen, is waaroor dit gaan. Die feit is dat die lewe soms wreed en hard is. Richard Rohr se boek, Adam’s Return handel ook oor die feit dat een van ’n gelowige se ‘rites of passage’, indien ons wil vrede maak met God, is om te aanvaar dat ‘life is hard.’ Dis nóg erger: die lewe is onregverdig. Nooit het die Nuwe Testament dit anders veronderstel nie. Of gemeen dat God, met respek, ons lewens met watte gaan toedraai nie. Ja, ons mag en moet bid: ‘Bewaar ons van die Bose’! Maar die vraag vir gelowiges, wat die kerk nie genoegsaam beklemtoon nie, is: ‘Kan enigiets in die skepping ons skei van die liefde van Christus?’ Sien ook Romeine 8:31-39. Ons het hierdie vraag egter verander na: ‘Hoekom laat God dit toe? Waarom keer Hy dit nie? Waar is Hy as slegte dinge gebeur?’
“Die Nuwe Testament is glashelder oor die feit dat lyding ons metgesel gaan wees op aarde. Trouens, ons dra, soos Paulus in 2 Korintiërs 4 skryf, die dood van Jesus met ons saam sodat die lewe van Christus in die komende lewe sigbaar sal word. God is nooit in die Nuwe Testament op rekord dat Hy ons van swaarkry gaan spaar nie. Trouens, Jesus sê eksplisiet dat ons sy kruis sal moet dra. ’n Kruis in daardie tyd was ’n doodsvonnis, maar ons het dit verromantiseer. Die meeste apostels is, net soos Jesus, wreed vermoor. Miljoene Christene het gesterwe in ’n bloedbad van wreedheid wat Romeinse owerhede oor die eerste 300 jaar plus na Christus teen hulle losgelaat het. En tog het hulle altyd een groot vraag gevra: ‘Kan enigiets ons skei van die liefde van Christus?’ Hulle het ook die antwoord hierop geken: ‘Nee.’ Hulle het saam met Paulus vas geglo dat hulle oog nie op die sigbare is nie, maar op die onsigbare. Hulle het ’n nuwe wêreld in die geloof gesien en verwag (sien 2 Korintiërs 4:16-18).”
“Helaas het Jesus ons ook in Matteus 13 gewaarsku dat twee dinge mense se geloof sal steel: Gierigheid en swaarkry. Inderdaad sal mense God verwyt en vrae vra as slegte dinge gebeur. Vele sal dan ophou glo as dit lyk of God nie meer dinge vir hulle gee wat hulle wil hê nie. En tog sal sommige gelowiges die “guts” hê om teen alle twyfel in worstelend, twyfelend en huilend aan Christus vas te klou. Hulle sal sy lydingsbeker enduit drink, soos wat Johannes en Jakobus onderneem het in Markus 10.”
Nadat ek Stephan se antwoord gelees het, skryf ek weer terug: “Ek lees gister Job 38 en verder waar God vir Job antwoord. Daar is bykans geen simpatie in sy monoloog nie. Ons behoud lê duidelik in die feit dat ons die almagtige God en Skepper van net mooi alles aanbid. Ons behoud lê in die feit dat Hy ons die krag gee om onder sy beskerming en genade deur so ’n geweldige trauma te kom. Ons behoud lê in die feit dat hierdie vrou, Christelle, ’n toegewyde kind van God was. Sy het nou rus en vrede weg van die aardse moeilikhede. Sy sit waar ek soooo graag wil wees: By die voete van haar Christus. Tog is dit so moeilik om te begryp met my beperkte breinkrag.”
Stephan se antwoord: “Ek meen tog daar is ’n ander hoek om Job 38 uit te bekyk. Na 37 hoofstukke waar Job vir God in die beskuldigdebank plaas, leer God hom dat hy het die skepping misgekyk het. Soos ek aldag sê, dit is net die sesde dag se skeppingswerke wat God probleme gee; dag 1-5 gee Hom steeds groot vreugde. En dít is wat God onder Job se aandag wil bring – saam met die openbaring van sy almag, soos wat jy so mooi skryf. Job moet God se deernis vir diere en vir detail sien in hoofstuk 38 tot 41. Hy moet die finesse en kreatiwiteit waarmee Hy alles gemaak het, begryp. Job moet self besef dat hy uit sy diepte praat as hy God van liefdeloosheid en traak-my-nie-agtigheid beskuldig in Job 16 en 19.”
Ek hoop dat hierdie gekrabbel vir lesers sin maak en darem ’n halwe antwoord op die vrae gee. Of dalk ’n klein mate van perspektief en berusting bring. Dit bly pynlik moeilik. Maar my wyse Pa Piet sê altyd: “My kind, Job is my gunsteling boek in die Bybel. Job het met God gestoei nes ek ook met God stoei. Dag en nag. En hierdie gestoei tussen my en God is fisieke kontak met my Skepper. Hoe wonderlik!”
Nou wil ek afsluit met die woorde van Elie Wiesel in ’n onderhoud met Timothy Beal: “Dink aan die Hebreeuse woord vir ’n vraag, she’elah. In die middel van die woord staan ‘el, wat God beteken. God is dus in die vraag. Maar hoe kry ons antwoorde? Hou aan om die vraag te vra.”[2]
Ai tog, ek wóú afsluit. Maar ek dink nou net aan Paulus se pleidooi in 2 Korintiërs 12: “Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’” En dan Paulus se brawe volgende woorde: “Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.”
[1] Stephan is die stigter van Ekerk, ’n teoloog en skrywer van verskeie boeke. Hy is ook ’n buitengewone professor in Kontemporêre Ekklesiologie (ai, ek is te dom om mooi te verstaan wat dit beteken!) aan die Universiteit van die Vrystaat.
[2] Soos aangehaal in die boek God se antwoord… is ’n vraag – Oor God, lyding en die lewe in die lig van die boek JOB deur Ockert Meyer, Ian Nell en Robert Vosloo.
