Ek hou van katte.
Dis net jammer dat die katte wat vir my gewys het wie’s baas, se lewensverhale nie van hierdie sentiment getuig nie.
Ek was vyf jaar oud toe my ma en pa van Tolwe in Limpopo af huis toe kom met twee babakatjies. Ek, my boetie en ons twee boelterriërs het in ‘n ry gaan sit om die nuwelinge te ontmoet. Die gemmerkat was eerste. My pa het hom versigtig al hoe nader aan Raisa, die teefterriër gebring, sodat hy sy nuwe speelmaatjie kon leer ken. Die wit-en-swart-kat en Fritz, die reun, was volgende aan die beurt.
Die ontmoeting was in ‘n oogwink verby en Fritz het sy oorskietkosvoordele vir ‘n week verbeur. Sy stert het nogtans geswaai – die kat was seker maar lekker.
Leeu-leeu, die gemmerkat, was vir drie jaar deel van ons huishouding. Hy het al die muise in ons dak gevang en ons het nou en dan vir hom tuna of melk gegee. Ons het Hoedspruit toe verhuis en Leeu-leeu is saam met die huis verkoop.
Ek het my ouers nie weer met katte vertrou nie en kon op 24 toe ek in my eie woonstel ingtrek, uiteindelik vir myself ‘n katjie koop. Haar naam was Wilsie. Die kompleks waar ek haar aangehou het, was nie kat-vriendelik nie en ek moes haar soos ‘n gyselaar aanhou. Wanneer niemand gekyk het nie, kon sy buite op die stoep gaan baljaar.
“Wat ruik so?” het die opsigter so nou en dan gevra. Ek het dan net my skouers opgetrek. “Iets ruik soos ‘n kat,” moes ek ‘n ander keer hoor. “Nee ek weet nie oom, ek stink seker maar so ‘n bietjie.”
Hy het nie weer gevra wat soos ‘n kat ruik nie.
Ek het verhuis.
Ons nuwe erf was uitgeknip vir Wilsie. Sy het heerlik baljaar op ons grasperk en ‘n lelike mannetjieskat het haar die hof begin maak. Daar is geen geluid wat ‘n mens meer uit die slaap hou as die middernagtelike flankeerdery van twee katte nie. Ek moes aand na aand in my naggewaad by die huis uitstorm om op die mannetjieskat te skreeu en hom met ‘n glas water te gooi.
Hierdie bron van spanning was vir ‘n kort rukkie nie deel van my lewe nie – ek het by my ouers in die buiteland gaan kuier en Wilsie sou Barberton toe vir die vakansie. Ek het die kat werk toe geneem en ‘n kollega het aangebied om haar Barberton toe te neem. “Die plek is vol katte,” het sy gewaarsku.
“Ons sal vir Wilsie ‘n voorbehoedmiddel moet aanskaf,” het sy besluit en die apteek gebel.
“Goeiedag, het u voorbehoedmiddels in voorraad? Ek wil nie hê my kat moet kleintjies kry nie.” So gesê, so gedaan. Ek moes ‘n inspuiting by die apteek gaan haal en Wilsie, haar sandbak en haar inspuiting is Barberton toe vir twee weke.
Ek het teruggekom Suid-Afrika toe en wou my kat gaan haal. ‘n Groter, vetter Wilsie met ‘n nuwe pels het my begroet. Ek het besluit om nie slapende honde wakker te maak nie en het die nuwe kat ook Wilsie genoem. Die mannetjieskat het daardie aand weer kom sing. Dit was sy swanesang.
Dit het geblyk dat Wilsie losbandig was: ‘n paar bure het genoem dat sy per geleentheid in hulle huise geslaap het. Die kompleks se bestuur was nie beïndruk met die spontane kuiergas nie en ek moes ‘n plan maak. Ek, Wilsie en 20 sakke katkos wat ek saam met haar moes aflewer om my gewete te sus, het die pad gevat om vir haar ‘n huis te gaan soek.
Die mannetjieskat sing nog soms by my venster.
Ek slaap elke aand maar met ‘n glas water langs my bed – ‘n mens weet nooit.
