BlogsOpinionVryerige Vrydae

Verbeel jou: ‘n man kaalvoet agter die stoof

Sou omstandighede jou noodsaak om solank self rys op die stoof te sit en die aartappels te skil, sal jou testosteroonvlakke nié daal nie, ek belowe jou

Ek wonder hierdie week opnuut oor die sogenaamde tradisionele rolle van die man en vrou. Dis ‘n kwessie wat al voorheen groot konflik in meer as een van my verhoudings veroorsaak het.

Ek kan die mans (en vroue) wat eng by hierdie opvattings hou, nie blameer as ek al die advertensies op TV gade slaan nie. Dit beeld nogsteeds die vrou uit wat kopkrap oor wat om te maak vir aandete, hoe sy die konfytvlek uit haar spruit se rugbyhemp gaan kry en watter brood die gesondste is om in te pak skool toe. Dis nog telkens die man wat moet toesien dat die motorbande se loopvlak diep genoeg is en dat die rak in die motorhuis stewig vas is.

Vandag se advertensies neem nie die groeiende aantal enkelouer- of saamgestelde gesinne in ag nie. Ook nie die feit dat die man en vrou se rolle noodwendig omruil weens verskillende werksure en -druk nie.

Al hoe meer mans begin deesdae met aandete en sien toe dat die kinders hul huiswerk doen terwyl vroulief nog besig is met die laaste rekeningkundige berekeninge op kantoor. Is hierdie veranderde rolle nog in die minderheid of weier die breë samelewing bloot om by veranderende tye aan te pas?

Ek het verlede week genoem dat ek vyf mislukte verhoudings op my kerfstok het. Man nommer 2 het op ‘n dag, sommer vroeg in die verhouding, by my opgedaag met ‘n koelerboks vol heerlike kouevleis, konfyte en brode. Opgewonde het ek gedink ons gaan piekniek hou in die sitkamer. My vreugde was van korte duur toe hy my vra om vir hom padkos en middagete vir die volgende dag te prakseer. Hy sou die volgende dag dou voor dag in die pad val na ‘n klein plattelandse dorpie elders in die provinsie vir werk en wou graag dié betrokke aand “bietjie ontspan”.

Skottelgoed was nadat ék aandete voorberei het, was ook vir hom taboe. Hy het op ‘n kol vir my ‘n sogenaamde Christelike inligtingsblaadjie aangestuur wat sy griewe verduidelik het. Dit het ondermeer gelees: “huishoudelike take soos skottelgoed was maak ‘n man nie ongelukkig nie, maar dit maak hom ook nie gelukkig nie”. Dit was hoekom dit só maklik was om sy voorstel dat ons trou, summier in die kiem te smoor.

Man nommer 3 daarenteen, was net mooi die teenoorgestelde. Dit was vir hom ‘n plesier om kos te maak en hy het nie omgegee om skottelgoed te was as dit sy beurt was nie. Uiteindelik! Ek het my sogenaamde metro-man gekry. Iemand wat in voeling was met sy “vroulike kant”. Sy gemoedelike aanvaarding van die omruil van geslagsrolle het egter ook sy nadele gehad. Só byvoorbeeld het hy hewig geprotesteer toe ek hom een aand terwyl ons gekamp het, gevra het om vir my water te gaan haal. “Hoekom verwag jy dit van my? Bloot omdat ek die man is?”

Natuurlik nie! Maar sou ‘n beer my oorval op pad kraan toe, sou hy vinniger kon weghardloop en met sy sterker fisieke krag ‘n moontlike aanval kon afweer.

Dit het my toe laat dink: is tradisionele geslagsrolle, tot ‘n mate, nie daar vir ‘n rede nie? Bestaan dit nie bloot weens die feit dat ‘n vrou se fisieke samestelling haar tot sekere take beperk nie?

Ek kan beter braai as enige man, maar ek is bloot fisies nie sterk genoeg om ‘n grassnyer oor ‘n hele grasperk te stoot nie. Ek kan ‘n spyker in ‘n muur inkap en ‘n gloeilamp omruil, maar ek kan nié, al het my pa my al hoeveel keer gewys, ‘n motorband omruil nie. Die moere en skroewe en dinge is net te styf vasgedraai en ek kry dit nooit los nie.

Ek, die geswore feminis, het bietjie kalmer geword met die jare. Tydens my mees onlangse verhouding was dit vir my lékker om die braaibroodjies en aartappelslaai te maak en sy klere te was wanneer hy regtig nie die tyd gehad het nie. Hy het dit glad nie van my verwag nie en was altyd dankbaar. Ek woú dit doen. Dit was ‘n praktiese manier om my liefde uit te beeld.

Mans, vroue verdien net soveel soos jy ‘n suksesvolle loopbaan. Sy werk nét so hard soos jy, indien nie harder nie. Sou omstandighede jou noodsaak om solank self rys op die stoof te sit en die aartappels te skil, sal jou testosteroonvlakke nié daal nie, ek belowe jou.

Vroue, jou nael sál weer uitgroei as dit afbreek terwyl jy self ‘n pot skuif of ‘n blik oopmaak.

Verskuif jou eie grense. Jy ontdek dalk net ‘n passie vir iets wat jy nie geweet het jy kan doen nie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button