Die kerk en homoseksualiteit
Ek weet ook dat die feit of homoseksualiteit toelaatbaar is in ’n gebalanseerde samelewing – wat dít ook al mag beteken – al vir honderde jare lank beredeneer word. Deur die kerk én regerings.

Hozier, ’n betreklik nuwe popgroep, sing ’n liedjie by name “Take me to Church”. Die lirieke staan my nie eintlik aan nie. Die musiekvideo glad nie. Tog het die lied my op ’n sekere vlak aangeraak. Dit is aanvanklik geskryf in protes teen die Rooms Katolieke kerk se posisie wat homoseksualiteit aanbetref. Hulle sing: “Take me to church / I’ll worship like a dog at the shrine of your lies / I’ll tell you my sins and you can sharpen your knife / Offer me that deathless death / Good God, let me give you my life.”
Sergei Polunin doen ’n aangrypende ballet op maat van die musiek. Kyk dit gerus. Ek dink dit beeld die pyn en woede skitterend uit:
Gister lees ek op Facebook ’n skryfstuk genaamd “Gay-activists call for churches to be forced to take homosexuality off sin list draws concerns”. ’n Leraar verbonde aan ’n NG kerk in Johannesburg het die stuk gedeel. Hy het ook ’n ander stuk kort daarna gedeel: “Yes, Jesus did talk about homosexuality”. Hy skryf oor die eerste artikel: “Brazen preposterousness! A mere man thinking he knows better than God and challenging God and His Word. This is satanic.”
Uit die aard van die saak het die plasings meer as ’n honderd kommentare uitgelok. Neels Jackson (redakteur van die Kerkbode), onder andere, wonder: “Die liefdesgebod staan tog sentraal. Die getuienis is oorweldigend dat die tradisionele veroordeling van homoseksualiteit die lewens van gelowige mense wat ’n gay seksualiteit het, verwoes. Hoekom ignoreer julle dit?”
In ’n eindelose lang kommentaar op die tweede artikel gebruik die plaser vreemde woorde en sinsnedes om sy redenasie teen homoseksualiteit te verduidelik en te regverdig: “Gereformeerde tradisie”, “hermeneutiese sleutel”, “rasionalistiese, fenomenologiese, empiries wetenskaplike voorveronderstellings”, “natuurlike teologie”, “transendente werklikheid”, “mitiese en irrasionele benadering”, “godsdiensfenomenologie of godsdienssielkunde”.
Liewe aarde, die jargon laat my sweet. Ek is te bang (en dalk te lui ook…) om te probeer uitvind wat die terme beteken.
Ek is ’n leek as dit kom by die redenasies vir en teen homoseksualiteit as sonde. Ek is, om die waarheid te sê, nie eens seker wat die NG Kerk se standpunte op hierdie stadium behels nie. Ek weet net dit is in die verlede dae lank op sinodes deurgepraat en, as ek dit nie mis het nie, is daar steeds nie konsensus bereik nie. Ek weet ook dat die feit of homoseksualiteit toelaatbaar is in ’n gebalanseerde samelewing – wat dít ook al mag beteken – al vir honderde jare lank beredeneer word. Deur die kerk én regerings.
Ek beplan nie om tot die teologiese debatte toe te tree nie. Daarvoor is die dak te warm en my voetjies te sag. Ek ken ook blykbaar nie die regte lingo nie.
Ek is deeglik bewus van wat daar in die Bybel oor homoseksualiteit staan. En, net so terloops, oor ánder sondes ook – van ‘n seksuele én ander aard.
Wat ek wél ook, as “gewone” gelowige weet, is die volgende:
Ek weet dat ek maar eers die balk uit my eie oog moet haal voordat ek opgewonde raak oor die splinter in ’n ander se oog. Ek weet ook dat Jesus Christus aan hierdie einste houtbalk gehang het en ek daardeur gered is.
Jesus benadruk oor en oor: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” Ek is ewig dankbaar dat my eie oordeel in die hande van Jesus Christus, die groot Genade lê, en nie in die hande van mense nie.
Is een sonde groter as ’n ander? Is daar ’n sonde, behalwe vir die sonde teen die Heilige Gees, wat uitgesluit word van genade? Van die aangrypendste woorde in die Bybel, is Jesus se woorde aan die moordenaar wat langs Hom aan die kruis gehang het: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.”
Die liefdesgebod vereis van my om ander lief te hê. 1 Korintiërs 13 verduidelik in geen onduidelike terme wat hierdie liefde beteken nie. Geduldig, vriendelik, nie afgunstig, nie grootpraterig, nie verwaand, nie onwelvoeglik, soek nie sy eie belang nie, nie liggeraak, hou nie boek van die kwaad nie, verbly hom nie oor die onreg nie. En dan:
Dit bedek alles,
Glo alles,
Hoop alles,
Verdra alles.
Ek Google “list of sins”. Liewe land. Daar is lyste van hier tot in die Noordpool. Dankie tog dat Hy nie elke liewe een van my eie sondes om my nek hang nie – die vrag sal my in die aarde laat weg sink.
Ek dink dit is tyd dat ons almal begin nuut dink – veral oor mense wat anders as ons is. Wat ’n wonderlike plek sou die aarde nie dan wees nie?
