Daar vat hy! Ek wens…
Soos die aande kouer geword het, het ek vir my 'n minnaar by Dischem teen 'n skamele R80 aangeskaf. Jy prop hom in by die muur en binne 10 minute is hy kokend warm en hou jou snoesig vir die res van die aand

Ek gaan haarkapper toe vir ‘n sny en highlights. Ek gaan sit by die wasbak sodat die assistent my hare kan was. Soos wat haar vingers deur my hare vleg, oorweldig emosie my en ek moet veg teen die trane. Ek besef daar en dan dis omdat ek al so lank hunker na fisiese aanraking.
Ek bly alleen. Daar is dae wat ek huis toe gaan en eers weer die volgende oggend op kantoor van aangesig-tot-aangesig met iemand gesels. Daar is niemand wat wag by die huis langs wie ek my op die bank kan gaan neerplak, my bene oor sy skoot gooi en paai vir ‘n voetvryfie nie.
En ek is ‘n vatterige mens wat hou van kontak. Drukkies en soentjies, ‘n vryf oor my rug, ‘n vat aan my arm. Dit kom van my pa af. Moet wees. Hy sou toe ons klein was en hy langpad bestuur het, sy hand onder agter die sitplek insit en aan ons enkels vat. Net om te wys hy dink op daardie stadium aan ons en is lief vir ons.
Ek beduie graag met my hande as ek praat en as ek opgewonde raak of sterk voel oor ‘n saak, sal ek aan jou arm of bobeen vat om my punt te beklemtoon.
Dis nie ek wat mal is nie. Ek is nie net nog ‘n emosionele, onstabiele vrou nie. Daar is regtig iets soos ‘n aanrakingstekort. Navorsing deur die sielkundige lektor, dr. Matthew Hertenstein, het bewys dat fisieke aanranking bloeddruk laat daal en stres verminder.
Die probleem is egter dat ons deel is van ‘n samelewing wat bang is vir aanraking. Inteendeel, dit word ontmoedig. Ons word geleer om nie iemand anders se persoonlike ruimte binne te dring nie. Ek praat nie van so na aan iemand staan dat jy ongemaklik raak en sy stink asem kan ruik nie. Daarvan hou niemand nie, nie eens ons vatterige klomp nie. Jy kan steeds ‘n veilige afstand hou en die ander persoon aanraak.
Soos die aande kouer geword het, het ek vir my ‘n minnaar by Dischem teen ‘n skamele R80 aangeskaf. Jy prop hom in by die muur en binne 10 minute is hy kokend warm en hou jou snoesig vir die res van die aand. Ek kom agter dat ek deesdae nie sonder Frikkie – soos ek hom gedoop het – kan slaap nie. Dit gaan egter nie (net) oor die hitte nie. Frikkie is iets waaraan ek aan kan vat. Kan vashou.
Maar ai, dit sou darem maar lekker wees om die ware Jakob langs my te hê.
