Is dit jou pa aan jou sy?
Kenners sê jy moet jou ouderdom deur twee deel en dan sewe bytel - jy moenie iemand jonger as dít die hof maak nie. Ek moet dus liefs nie na iemand jonger as 22 loer nie

“Age is but a number,” het Ally Elise Shults gesê.
Asof verhoudings nie genoeg uitdagings opsigself bied nie, is ouderdom (dikwels) een van hulle. Toe ek 19 was en mans van 30 en ouer het by my aangelê, het ek my doodgegril. Dertig? Stokoud! Fossiel! Ek het altyd spottend gereageer: “nee dankie, oom” en dit het hulle vinnig die hasepad laat kies.
Nou is ek self 30 en moet ek my siening aanpas.
‘n Mens het mos altyd voornemens dat jy nie met ‘n geskeide mens deurmekaar sal raak nie. Hulle het mos ‘n onnodige spul bagasie. Hulle is gebruikte goed. Tweedehands.
My ma merk nou die dag op dat die kanse beter as slegter is dat my toekomstige man geskei gaan wees weens my ouderdom. “Dit is nou maar die kringe waarin jy gaan begin beweeg,” merk sy droogweg op. Dit was soos ‘n emmer koue water in my gesig. Ontsteld het ek ‘n noodtoestand afgekondig en die vriendinne ontbied sodat ons dié krisis oor ‘n glas wyn kon bespreek.
“Is so, ja,” laat ‘n vriendin (ook 30), hoor. Haar kêrel van 41 is nié geskei nie en interessant genoeg laat juis dít die wenkbroue lig. “Mense sê ek moet oppas. Daar is fout met hom. Hoekom anders was hy nog nooit getroud nie?” verduidelik die vriendin.
‘n Ander kennis van my is nou weer deurmekaar met ‘n man wat meer as dubbel haar ouderdom is. Dié ouderdomsverskil is nie soseer die probleem nie, maar eerder die feit dat hy reeds verskeie mislukte huwelike én verlowings op sy kerfstok het.
Dit laat my verward. Wat is nou eintlik die probleem? Wat moet nou eintlik die gevaarligte laat flikker? ‘n Wesenlike ouderdomsverskil of die bagasie wat oueres dikwels saamsleep?
Kenners sê jy moet jou ouderdom deur twee deel en dan sewe bytel – jy moenie iemand jonger as dít die hof maak nie. Ek moet dus liefs nie na iemand jonger as 22 loer nie. Hulle sê voorts dat vroue instinktief na meer “gevestigde” mans soek – dus oueres, terwyl mans vroue soek wat (nog) kinders kan voortbring – dus jongeres. Is so, ja, kan ek sélf getuig. ‘n Man het my net twee jaar gelede gemaan om “vinnig plan te maak” omdat – soos die Ingelse sê – my biologiese klok uithardloop.
Dit verduidelik moontlik hoekom dit “sosiaal minder aanvaarbaar” is vir vroue om met jonger mans uit te gaan en andersom.
Hoewel ek veralgemenings háát, is hierdie een waar. Die samelewing dink nie twee keer oor ‘n man (30) wat uitgaan met ‘n vrou (22) nie. Maar laat ‘n vrou (30) nou net ‘n verhouding aanknoop met ‘n man (22) en die vooropgestelde termes en opvattings doen vryelik die rondte soos shooters op ‘n Vrydagaand: “toy boy“, “sugar mommy“, “sy maak hom na haar hand groot”, of “sy is nie volwasse genoeg vir iemand van haar eie ouderdom nie”.
Ag ek is seker nou weer ‘n ou Sannie Suurlip. Nee. Eintlik is maar net wreed ontnugter. Ek het as jong meisie hierdie drome en ideale gehad van ‘n held op ‘n wit perd wat my voete onder my uitslaan en dat ons saam die móóiste gemiddelde 2.3 kinders sou hê. Dis dalk juis die probleem – hierdie ideale. Hierdie idee van ‘n sprokie waarvan jou lewe moet getuig.
Ek sal maar besluit of ek ‘n ouer of jonger man in my lewe gaan toelaat die dag as ek daarmee gekonfronteer sou word. Intussen gaan ek nie ander met veel ouer of jonger lewensmaats oordeel nie. Dié maats bied dalk net die sprokie waarop hulle gehoop het.
