BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion
Die gaybesluit het my geloof geknak
Die NG Kerk se omstrede besluite rondom selfdegeslagverhoudings het my ’n radikale geloofsinsinking laat belewe. Nie die kerklike debatte en latere besluite nie. En definitief ook nie die feit dat mense van die besluite verskil nie. Wat my tussen die koue vloer en die harige mat laat beland het...

Ek en die kerk
Gedurende die laaste paar jare het ek as gevolg van verskeie redes stelselmatig verder as eers van die kerk, of sal ek eerder sê gemeente, wegbeweeg. Ek het nie die gemeente verlaat of verdoem nie, maar bloot my vlerke begin span. Het maar net my visier bietjies-bietjies geskuif en my visie verbreed. Besef dat die gemeente alleen nie die kerk is nie. Tot groot voordeel van my verhouding met God. Ek woon steeds eredienste by en geniet dit meer as ooit.
Ek sien nou die kerk as God se teenwoordigheid op aarde. Die kerk is deur Christus geskep en bestaan reeds van die begin af. Gelowiges gee aardse gestalte aan sy kerk, maar Hy hou self sy kerk in stand. Hý blaas lewe in sy kerk en het nie mense nodig om dit te doen nie. Soos Paulus in Kolossense verduidelik: Jesus Christus is die heilige hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan. Hy lewe in mense wat deel van sy kerk vorm en openbaar Hom aan die wêreld deur gelowiges se doen en late. Deur na sy kerk te kyk, kan ongelowiges sien dat God liefde is, dat Christus alleen die Here is én dat Hy sonde haat.
Geen Christene is sonder foute nie, en tog laat God nie toe dat sy kerk as gevolg van menslike foute sneuwel of selfs skeur nie. Hy alleen hou sy kerk in stand.
Dalk is die Afrikaanse taal beperk in die sin dat die term “kerk” meer as een betekenis het. Dit verwys na die gebou, die verskillende gemeentes en denominasies én na die liggaam van Christus – nét ‘n gedagte…
Facebook en die kerk
Daarom dat ek voel ek wil huil as ek ene Steven se Facebook-kommentaar op die gaybesluit lees: “Ek sê nes die Roomse Kerk ’n HOERKERK is, so is die NG kerk ook ’n HOERKERK.” En Johan: “Sover dit my betref kan die gays met hulle perverse leefstyl en die moderator … maak wat hulle wil solank hulle dit uit die ‘kerk’ uithou… Die kerk het ongeloofwaardig geraak… Hoe dit ook al sy, ek sal my plig doen deur mense in te lig en na die Kruis te wys. Meer as dit kan ek nie en gelukkig het ek nie ’n kerk nodig om my Christenskap uit te leef nie.”
Ek wonder of mense besef dat die NG Kerk maar bloot ’n aardse geleentheid is vir gelowiges om gemeensaam te verkeer. Die NG Kerk is nie God se kerk nie. Gelowiges wat saam met NG gemeentes bymekaar kom, vorm almal deel van die globale kerk van Christus.
Die kerk, Christene en die gaybesluit
Die NG Kerk se omstrede besluite rondom selfdegeslagverhoudings het my ’n radikale geloofsinsinking laat belewe. Nie die kerklike debatte en latere besluite nie. En definitief ook nie die feit dat mense van die besluite verskil nie.
Wat my tussen die koue vloer en die harige mat laat beland het, was die manier hoe gelowiges teenoor mekaar optree in die openbare oog. Die wêreld hou gelowiges, as deel van die kerk, en die kerk, as liggaam van Christus, met valkoë dop om te sien wat hulle doen en sê en hoe hulle optree in moeilike situasies. En die wêreld hét hom verlekker. Kyk maar na koerantopskrifte, om maar twee te noem: “Gays: die vere waai,” “AP kerk kap NG oor gays” en nog vele sulkes.
Derduisende mense het hulself die laaste paar dae vir of teen die gay/kerk-debat op sosiale media uitgespreek. Daar was weinig opmerkings wat nie gedrup van sarkasme, meewarigheid, haat, veroordeling, geestelike hoogmoed, ongenade en liefdeloosheid nie. Weinig. Ek kan die opbouende opmerkings op die vingers van my hand tel. Ongelukkig geld dit grootliks vir die mense wat teen die besluit predik.
Dit het my geknak. Of býna geknak. Soms, net soms, haal ek my oë van my Here en sy kerk af en fokus op mense en hul verwronge, onkundige en onopgevoede reaksies. Ek fokus op die wêreldse idee van “kerk”.
Maar mag ons verskil?
Ons mág reaksie toon en sê as ons nie saamstem nie. Ons mág betugtig en debatteer. Maar tog op ’n manier wat vir God aanneemlik is. Só dat dit ons geloof in die enigste lewende God, die almagtige instandhouer van sy kerk, weerspieël. Op ’n manier wat getuig van ons liefde vir Jesus Christus, die Messias, en vir sy mense. Ook vir sy kerk. ’n Manier wat ander mense ’n tweede maal laat kyk en verklaar: “Daardie persoon het minder geword terwyl Jesus in sy lewe meer sigbaar, groter geword het.”
Of ons saamstem of nie is eintlik van minder belang in die groter prentjie. Minder belangrik as die manier waarop ons verskil. Minder belangrik as die effek wat ons woorde het op álle ander mense – medegelowiges, sondaars en ongelowiges. Minder belangrik as die effek wat ons woorde op Christus se kerk het.
Die boek Spreuke behoort elke gelowige se handleiding te wees as dit by woorde kom – veral woorde in ’n publieke domein soos Facebook. Daar is honderde verse wat van toepassing is. Ek dink maar aan 10:11: “Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee.” En ook 10:19:“Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig.”
(Ek weet dat daar ook verse uit Spreuke aangehaal kan word wat haatsprekers laat glo hulle is reg. Die Bybel kan aangehaal word om elke geleentheid te pas…)
My gebed
Tog bly my gebed dat God ook Here oor my woorde en reaksies sal wees. Dat ek Hom nie op sosiale media of enige ander plek deur my skerp woorde, sarkasme, veroordeling en vuurspuwende haatdraendheid in die skande sal steek nie. Dat ek sal minder word en Hy meer.
Ek vra dat lesers nie hierdie rubriek sal gebruik om standpunte vir of teen die gay/kerk-debat aan te voer nie. Ook nie om teen die NG Kerk te predik nie. Die fokus hier is gelowiges se reaksies op moeilike sake en nie die gaydebat nie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
