Die donker grou groen branders van die Natalse warm waters slaan onegalig, met die tipe ritme wat nie in mense gedagtes verklaar kan word nie, maar beheer en bestuur word deur die Groot Klok, die Vader se tyd.
In gedagte staan ek en kyk hoe die mag van die golwe met wit skuimrante die sagte sand van die strand streel nadat dit met ongeëwenaarde mag op die kuslyn neergedonder het. Is dit nie ook maar die manier waarop verhoudings werk nie?
Soos Kenny Rogers sing:
“Don’t fall in love with a dreamer
’cause he’ll always take you in
Just when you think you’ve really changed him
He’ll leave you again
Don’t fall in love with a dreamer
‘Cause he’ll break you every time
oh, put out the light
just hold on
before we say goodbye”
Dit is dan seker maar my storie daardie? Net een definitiewe en noemenswaardige verskil – en dit is dat ek nie loop nie, nee ek los haar nie, seker soms as ek in my drome en planne verdwaal wanneer ek as ‘n vreemdeling voorkom, maar nee, ek loop nooit weg van iets wat ek belowe het nie.
Kyk maar net na my perde! In 2000 kry ek vir Danven Neshar, die swart een, die vurige een, die hardegat een! En dit is juis hierdie eienskappe wat hom myne laat word het. Hierdie swart pragtige jaar oue vulletjie was ‘n verwilderde Arabiertjie wat van geboorte af as die kleinste in sy trop moes tande wys en ore plat trek as hy enige kos wou gehad het. Hy was so moeilik dat my Pa opgegee het en hom met ‘n sweep rond begin jaag het, want die swart een was mos eintlik vir hom gekoop.
Na ek en Neshar begin praat het, het hy begin verstaan dat ek nie van plan is om hom te los nie en dat hy nie ‘n speelgoedpertjie is. Ons moes tot ‘n gelyk kom. Ons moes leer om met mekaar te kommunikeer. Perdetaal – want Neshar is maar net nie gebou om met woorde te praat nie. En dit is waar, vir my, die kern van verhoudinge lê! Hy kan met sy vurige Godgegewe mag op die strand afdonder maar ook met sagte bykans onhoorbare taal die sand streel in ‘n dans tussen twee vertrouelinge wat, sonder om te dink of te aarsel, weet wat die ander se volgende beweging is.
Hierdie taal kan mense nie vir jou leer nie, en as jy nie stiltes kan hoor nie, en binnekant pyn kan sien nie, sal jy dit nooit kan verstaan nie. Hierdie taal is die taal wat Neshar, die pa van my Khamir vir my geleer het.
Khamir is die perd wat hierdie rit saam met my gaan doen. Vernoem na ‘n plek in die ou wêreld, nou Iran, beteken sy naam heel gepas “vreeslose leier“. My en Khamir se verhouding kan in een woord opgesom word: RESPEK.
Khamir is my staatmaker: Trots, vlugvoetig, vurig en warm, met oneindigende uithouvermoë. My Fleur.
Photographer: Chantell du Preez














