BlogsOpinion

Dag 6 – 3 Desember 2015 – Parys oppad na Koppies

Soos wat die son agter die horison verdwyn kyk die ruiters met bewondering na die pragtige plaas van oom Francois. Daar is egter ‘n gevoel van heimwee as hul terugdink aan die besoek by die konsentrasiekamp.

‘n Heerlike vars oggend met sagte druppels begroet die ruiters. Soos wafferse skouperde en ruiters vertrek hulle al pronkend vanuit die Afridome in Parys.

Dit is ‘n opedag en die opgewonde junior ruiter, Carla Whelpton, kry die geleentheid om die geskiedkundige rit mee te maak.

dag 6 b (Large)

Hulle beweeg in die hart van die Vredefortkoepel op dieselfde plekke waar daar meer as 100 jaar gelede volstoom “jag“ gemaak was op veg-generaal De Wet, wat op sy wit Arabier Fleur, draaie om die Britse soldate gery het. So vertel ‘n plaaslike inwonder dat haar grootouers die generaal vermom het deur hom soos ‘n vrou aan te trek en so reg onder die Ingelse se neuse deur gery het! Kompleet met ‘n netjiese kappie op sy kop en ‘n baba op sy skoot.

Na 32 km bereik hul die plaas van oom Francois van Loggerenberg waar hul hartlik begroet word en kans kry om uit te span. Oom Francois wys later die plek waar Fleur begrawe is onder die twee eikebome en die slagveld by Roodewal. Dit is die plek waar die grootste vuurwerkvertoning tot vandag toe nog in die Vrystaat gesien is, toe die Britte se ammunisie die lug ingeblaas was. Daarna besigtig die ruiters die Vredefortweg konsentrasiekamp en onthou die vele vroue en kinders wat die hoogste prys vir die oorlog moes betaal.

Later word die ruiters bederf soos net die Boere kan. Nie net kry hul ‘n heerlik bord kos nie maar selfs hul wasgoed word gewas!

Soos wat die son agter die horison verdwyn kyk die ruiters met bewondering na die pragtige plaas van oom Francois. Daar is egter ‘n gevoel van heimwee as hul terugdink aan die besoek by die konsentrasiekamp.

Hoe toepaslik is die pragtige gedig van Totius nie op hierdie oomblik nie:

Vergewe en vergeet
Totius

Daar het ‘n doringboompie
digby die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

En eendag kom daarlangs
‘n ossewa verby
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry

“jy het mos, doringstruikie
my anderdag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap”

die ossewa verdwyn weer
agter ‘n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op

sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom

ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ‘n teken
wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button