Dag 9 – 6 Desember 2015 – Oppad na Kroonstad
Teen 13:00 op die hitte van die dag is die ruiters by Heuningspruit, 12 km vanaf hul bestemming. Biede ruiters en perde is uitgeput. Daar is nie ‘n wolkie in die lug nie en dit voel asof die son hulle wil doodbrand. Daar is geen ontsnapping van die bloedige son op die Vrystaatste vlakte nie.

Die rit op die lang pad van 50 km begin reeds om vyf uur die oggend.
Vandag ry klein Mia, Theunis en Fiona se vyfjarige dogtertjie, saam met Heki in die groot rooi trok, genaamd Generaal, agter die ruiters aan. Mia het vir die eerste keer vandat haar ouers met die rit begin het weer by hulle aangesluit. Dit was hartroerend om te sien hoe die verlangende dogtertjie se traangesiggie opgehelder het toe sy uiteindelik weer haar mamma en pappa kon sien. ‘n Mens kan jouself net indink hoe verskriklik tragies en hartverskeurend die skeiding tussen kinders en ouers was tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) wanneer hulle van mekaar weg geruk was vir jare, en in die meeste gevalle vir ewig.
Die ruiters ry met eerbied verby ’n klein gedenknaald ter ere van Emily voor die Nederduitse Gereformeerde Kerk op Koppies. Die Engelse dame, Emily Hobhouse, was as maatskaplike werkster gekant teen die ABO en die Konsentrasiekampbeleid van die Britse militêre owerheid in Suid-Afrika. Sy het ’n noodlenigingsfonds gestig en is self na Suid-Afrika om toestande in die konsentrasiekampe te gaan ondersoek en terselfdertyd persoonlike hulp te verleen. Terug in Engeland het sy die Britse owerheid meedoënloos in die pers aangeval en die konsentrasiekampe as “kampe van wreedheid” bestempel. So het sy dit reggekry om druk uit te oefen en is grootskaalse verbeteringe in kampe aangebring.
Na die oorlog het sy in 1903 na Suid-Afrika teruggekeer, om hulp te verleen en opheffingswerk onder die hulpbehoewendes te doen, onder meer deur die aanmoediging van tuisnywerhede en die stig van weefskole.
Die gedenknaald bestaan uit ’n voetstuk met ’n gedenkplaat van brons daarop. Op die voetstuk is ’n aantal ysterklippe aangebring, wat deel uitgemaak het van die oorspronklike fondament van die Weefskool en op die ysterklippe is die gedenknaald opgerig. Die bewoording van die bronsplaat lui soos volg: Hierdie gedenkteken is ’n nagedagtenis aan die Kantskool van Koppies 1909-1938. Dit bring hulde aan Emily Hobhouse. Dit betuig dank aan Johanna Rood wat die skool begin het. Die liefde en moed van hierdie twee dapper vroue sal deur die nageslag onthou word. Opgerig deur die Oranje Vroue Vereniging, tak Koppies.
Teen 13:00 op die hitte van die dag is die ruiters by Heuningspruit, 12 km vanaf hul bestemming. Biede ruiters en perde is uitgeput. Daar is nie ‘n wolkie in die lug nie en dit voel asof die son hulle wil doodbrand. Daar is geen ontsnapping van die bloedige son op die Vrystaatste vlakte nie.
“Die son maak rosyntjies van ons. Dit is nie altyd maklik nie, maar as jy glo jy kan hou niks jou terug nie,” verduidelik Fiona terwyl sy op Inka ry. Die laaste keer wat Inka geboks was, was toe sy uitgeklim het by die vertrekpunt nege dae gelede by die Voortrekkermonument. Die merrie is sover nog die enigste van die perde wat elke hoefslag van die rit gevat het. Haar krag hou net nie op nie. Daar word gesê dat ‘n perd ‘n spieelbeeld is van sy ruiter. In Inka en Fiona is dit duidelik te sien.
Skuins voor drie uur die middag bereik die span hul bestemming op Johan Enslin se plaas in die Kroonstad omgewing. Dit was ‘n moeisame en uitmergelende dag. Daar is eerstehands ervaar onder watter uiterste weersomstandighede ons voorouers en hul perde die verskrikking van die oorlog moes trotseer.




