-
Nuwejaarsvoorneme nommer 1: As dit nie lekker is nie, moet dit nie eet nie.
Daar was drie pakkies koekies in ons kruidenierskas oor die feestyd. Die koekies het soos karton gesmaak en ‘n dun geel lagie het die twee kartonlagies aanmekaar gehou. Volgens die verpakking moes die geel lagie soos piesang gesmaak het.
Dit het nie.
Die smaak was iets tussen meel en houtlym.
Al drie pakkies is nogtans verorber.
“Dit was nie eers lekker nie,” het my pa tereg opgemerk.
Hy het die kilojoules ingeneem, maar geen genot daaruit geput nie. So is dit met toebroodjies by die werk. ‘n Mens koop dikwels inderhaas iets wanneer jy nie honger is nie. “Dis 13:00, Pavlov sê ek moet eet.” Dan druk jy iets in jou keelgat af. ‘n Volle 2000 kilojoules later sit jy met ‘n olierige nasmaak in die mond.
Slegte kos is nie bevredigend nie.
-
Nuwejaarsvoorneme nommer 2: Sit die televisie af.
Ek het besluit om my televisie vir ‘n vriend te leen. Die ding staan in elk geval net en blêr in my ore. Sedertdien luister ek saans radio. My ore is ewe skielik oop – ek fokus op wat ek hoor en ek sit die masjien af as die program my nie interesseer nie. Televisies wat blêr as niemand daarna kyk nie, is ‘n onding.
-
Nuwejaarsvoorneme nommer 3: Sit regop.
My postuur het my begin irriteer. ‘n Stel maag- en rugoefeninge het die situasie begin regruk en ek het ‘n bal aangeskaf waarop ek by die kantoor sit.

-
Nuwejaarsvoorneme nommer 4: Simpel mense is nie jou vriende nie.
In ‘n mens se twintigs fladder ‘n mens tussen vriende rond totdat jy ‘n groep kry waar jy aard. Dis maar ‘n gesukkel en baie word ge-elimineer wanneer jy agterkom dat hulle eenvoudig nie jou vriende wíl wees nie. Jy ken die storie: jy doen moeite, hulle doen nie moeite nie. Jy gee, hulle vat. Dan is daar dié wat soos sponse wat op jou reserwes teer totdat hulle nuwe bankrekeninge op bene geïdentifiseer het.
Een kennis van wie ek vir maande niks gehoor het nie, het dit goed gedink om Dinsdag vir my ‘n boodskap te stuur:
“Haai vreemdeling, ek wil by jou hoor of daar dalk ‘n moontlikheid is dat ek en ‘n vriendin daar kan kom swem
as dit reg is met jou.”
Jy kon my met ‘n veer omtik. Ek het hoflik gereageer en heimlik gewonder hoe ‘n mens maak as jy nie na ‘n swempartytjie by jou eie huis toe genooi word nie? Aangesien ek intussen verhuis het en gelukkig nie vir hom óf sy vriendin ‘n swembad het nie, hoef ek nie my kop daaroor te breek nie.
Dis eenvoudig nie die moeite werd om jou tyd te mors met mense vir wie jy nie ‘n prioriteit is nie. Ek het my intussen by ‘n ouer vriendekring ingewurm. My beste vriendinne is 36 en 56. My beste vriend is 46. Dalk is ek oud voor my tyd?
Dalk het ek besef wat die waarde van tyd is.
-
Lewensvoorneme: As dit nie waarde toevoeg nie, sny dit af. Die lewe is te kort vir enigiets wat nié die beste is nie.
Mag 2016 jou aangenaam verras!
