Dis buite beheer, maar onder beheer
'n Kluisenaarsbestaan in 'n huis van Tupperware sal veiliger wees.
Alhoewel jy van twee dinge in die lewe seker kan wees – die dood en belasting – is nie een van die twee binne jou beheer nie.
Dit het ek onlangs weer besef toe die vliegtuig waarin ek tussen Lusaka en Johannesburg gevlieg het, die een lugleegte na die ander getref het. Dit het ‘n vreeslike geruk afgegee en die sitplekgordel-liggies was byna konstant aan. As aanhanger van Air Crash Investigation het ek aanvaar dat ek besig is om te sterf en my lewe voor my sien verbyflits.
Die ou op die stoel langs my het geamuseerd na my gesit en kyk terwyl my kneukels spierwit geword en ek stadig in- en uitgeasem het. Ek was oortuig daarvan dat die vlieënier enige oomblik ‘n noodtoestand sou aankondig. Dis jammer dat ‘n mens nie ‘n huldeblyk op jou eie begrafnis kan lewer nie – ek het sommer my eie een geskryf wat van ‘n gesonde selfbeeld getuig.
“Doelwit vir 2016 – wees nederig,” het ek agter in ‘n notaboekie geskryf.
Nou ja. Die vliegtuig het nie geval nie en ek sit tans my lewe voort. Alles is alweer buite beheer. My oefenprogram is in ‘n kritieke toestand en my dieet laat veel te wense oor. Die rand speel wipplank en daar word gestaak by die universiteit waar ek volgende week vir ‘n kursus moet aanmeld.
En ‘n bobbejaan het Saterdag ‘n pak skyfies uit my hand uit gegaps in die wildtuin. Ek behoort dankbaar te wees – dit het my dieet gered.
Die chaos is niks buitengewoons nie. ‘n Chaos-vrye lewe is jou ook nie gewaarborg nie. Jy gaan nog ‘n paar keer in die openbaar val. Of dalk nooi jy ‘n klomp vriende vir ‘n seekos-paella. Wanneer een by die deur in stap met ‘n hamburger in haar hand, onthou jy dat sy allergies is vir seekos.
Ek het nie kinders nie. O, wag, ek het ook nie ‘n man nie. Maar ek weet reeds dat ek eendag my kinders by die skool gaan vergeet. Dalk sal ek hulle sommer van die begin af tuis leer sodat ek so ‘n rampie kan vermy.
Alhoewel ‘n kluisenaarsbestaan in ‘n huis van Tupperware die meeste rampe sal omseil, is dit nie die antwoord nie.
Wanneer die gewaarwording dat niks binne my beheer is nie dreig om my angstig te maak, volg ek Eckhardt Tolle se raad. Hy skryf in “The power of NOW” dat ‘n mens jouself hoofsaaklik moet ophou met die hede. Hy sê tereg dat dit geen sin maak om enigiets wat nou gebeur in toekomstige of verlede terme te interpreteer nie.
“Wanneer jy die hede in terme van die verlede interpreteer, kry jy ‘n verwronge beeld daarvan en veroorsaak jy spanning. Dieselfde gebeur wanneer jy die hede interpreteer in terme van ‘n toekomstige verwagting.”
Hierdie gewaarwording maak my rustig.
Die lewe is ‘n reeks verrassings. Aanvaar dit so.
