Hierdie jaar het so vinnig afgeskop dat ek twee dae se verlof moes neem om agter te kom watter maand dit is.
Dis Februarie, het ek besef terwyl ek Maart van ver af sien aanstorm het.
Is dit net ek of vlieg hierdie jaar verby soos geen ander nog ooit het nie?
Op een of ander manier het my vriendinne almal verloof geraak, getrou of babas gekry. Ek weet nie met watter tyd hulle dit gedoen het nie, maar ek bewonder hulle. En ek bewonder ewe skielik my ma.
Hoe op aarde het sy dit reggekry om te werk en na ons drie kinders (dis nou ek, my boetie en my pa) om te sien? Die huis was altyd netjies en die vloer altyd gevee. Selfs haar vadoeke was skoon.
Dan is daar ek. My huisgesin van een moet alewig tot stilstand kom, sodat ek weer kan vasstel watter dag van die week dit is, wat gedoen is en wat gedoen moet word.
Op pad werk toe draai ek nie vir kinders se kosblikke om nie, maar vir my selfoon wat ek alewig op die toonbank vergeet.
By die werk is ek konstant op soek na my pen. Die hof waarvandaan ek dikwels verslag lewer het al vir my ‘n lost and found hopie tot stand gebring. Wanneer ek besef dat een van my goed alweer iewers soek geraak het, kry ek dit gewoonlik daar.
Wanneer ek in winkelsentrums rondloop, verkyk ek my aan supervroue wat alles onder beheer het. Nie net is haar hare, naels en grimering perfek nie. O nee, sy het ‘n ry kinders ook. En hulle is silwerskoon. En soet. O, en sy het ‘n man. Adonis. Wat op een of ander manier ook luister as sy praat.
Wat voer jy hulle skelm? Wonder ek.
Ek sal daarvan moet kry vir my toekomstige man en kinders se postoasties.
O nee, wag, ek gaan seker eers die man moet aanskaf.
Maar dan kyk ek na my woonstel. Ek is een mens. Daar is saans een vuil pot, bord, mes, vurk en lepel in my opwasbak.
Ek was een maal ‘n week wasgoed. Daar is ‘n wit hopie en ‘n donker hopie.
En dis genoeg werk, dankie.
Daar is glo ‘n tyd vir elke ding en elke ding gebeur op sy tyd.
Dis nou my tyd om min moeite te doen deur net vir een gesinslid te sorg – die uwe.
Daarmee kan ek saamleef.
