Op soek na ou wapaaie van weleer
Talle van hierdie nou vergete waroetes het die Laeveld oorkruis. Met die jare en met die koms van die spoorlyn en moderner vervoer het die paaie verdwyn, maar soek ‘n mens weer daarna, vind jy dat van die roetegedeeltes steeds plek-plek loop waar die wapaaie eens was.

MBOMBELA – Die ou wapad of die destydse transportroete van Lydenburg na Delagoabaai is die agtergrond vir die skryfwerk van Percy Fitzpatrick, The Outspan en die meer bekende Jock of the Bushveld.
Die boeke gee ‘n lewendige uitbeelding van die vroeë Laeveld. Die era en die vroeëre leefwyse van die transportryer met sy platboomwa en span osse wat voorraad en lewensmiddele van die hawe by die ou Lourenco Marques na die ou Oos-Transvaalse goudvelde moes bring, is ook onlosmaakbaar deel van die geskiedenis van hierdie gebeid.
Talle van hierdie nou vergete waroetes het die Laeveld oorkruis. Met die jare en met die koms van die spoorlyn en moderner vervoer het die paaie verdwyn, maar soek ‘n mens weer daarna, vind jy dat van die roetegedeeltes steeds plek-plek loop waar die wapaaie eens was. Ander dele is nog op lugfoto’s te sien soos dit teen die berghellings uitgekerf lê of waar ‘n bosbou- of plaaspad nog dieselfde praktiese rigting van destyds inslaan – altyd op die kim of reguit op of af teen ‘n skuinse of bult. ‘n Transportwa kon nie skuins loop nie.
Dit was soek na omslaan. Sedert hy in die jare tagtig op Hazyview as ‘n jong algemene praktisyn uit Pretoria hier kom werk het, soek dr. Gerrit Haarhoff hierdie ou stukkies pad. Soms het ‘n ou inwoner hom gaan wys maar dikwels was daar die verwysings uit Fitzpatrick se eie geskrifte of ander navorsing oor die geskiedenis van die gebied. Haarhoff was ook nie die eerste nie. Soos die oorspronklike ou roete oor bykans 130 jaar mettertyd verdwyn het, was daar ook ander leidrade wat vroeëre soekers na die ou Jockpad agter gelaat het.
Die enkele aanvanklike brons-roetemerkers uit die vroeë jare vyftig waarvan baie intussen verdwyn het, ‘n enkele gidsie met plekbeskrywings deur een van die vroeëre verkenners, Brian Simmons en dan die latere wegwysers uit die jare tagtig waarvan baie reeds vergete geraak het of versteek was agter rye gras en bosse of op plekke is waar niemand meer aandoen nie.
Nou het Haarhof in samewerking met die skrywer van hierdie artikel oor die afgelope maande weer gegaan en met deeglike verkenning en op lugfoto’s die hele roete gekaarteer. Vir die eerste keer is daar nou GPS-koördinate bepaal van elke belangrike plek op die roete. Ons het gaan soek na elke wabandmerk wat nog op plekke sigbaar is en dit gedokumenteer. Die grootste deurbraak was die bepaling van die presiese plek waar die wapad die platorand op en af is tussen Lekkerlach en Tumbling Waters. Met die plantasie-aanplanting nou nog jonk, kan die drie slote reguit bergop nou duidelik gesien word. Vroeër die maand het Haarhoff ‘n groot groep lede van Mpumalanga Erfenis oor drie dae oor die roete gelei. Op die eerste dag is nie minder as vyf verlore of vergete roetewysers opgespoor, of die plekke bepaal waar sulke wysers vroeër was.
Dit was sedert die laat jare, 1870 deur die tagtigs tot in die 1890’s, toe die transportpad deur die treinspoor vervang is. As jong man was Fitzpatrick een van die transportryers – eers met twee waens wat binne enkele maande tot vier, elkeen met sy eie span osse, gegroei het. Of die storie van Jock net op sy hond gebaseer is en of ook die wel en weë van ander honde wat Fitzpatrick op die trekpad teëgekom het uitbeeld, bly onseker. Die storie van Jock was eers ‘n klompie verhaaltjies wat hy saamgesnoer het om aan sy kinders te vertel, wat hy later te boek gestel het.
In 1905, toe hy reeds ‘n gevestigde sakeman en openbare figuur in Johannesburg was, het hy weer die ou wapad kom ry. Dié keer het hy sy vrou en kinders saamgebring asook die Britse kunstenaar, Edmund Caldwell wat sy beoogde boek moes illustreer. Die keer was die reis met gemakliker muilwaens. Ook op die reis was Fitzpatrick se sewejarige dogtertjie, Cecily – later Niven. As sy enigste oorlewende kind het sy in die jare veertig kontank gemaak met mense wat graag die wêreld van Jock en sy baas wou bewaar. Sy het geld bewillig en met die samewerking van die ou Transvaalse paaiedepartement is enkele brons roetewysers aangebring waar die nuwe paaie en toeristeroetes van die Laeveld die ou weë gekruis het.
In die jare tagtig – goed 30 jaar later was daar weer hernude belangstelling toe ‘n groepie Laevelders die Lowveld Diggers and Transport Riders Society gestig het. Veral drie manne, Brian Simmons, Derick Coetzee en Bill Winkler – bekend as die drie padvinders – het groot moeite gedoen om die ou roete weer na te spoor. Hulle het die plekke bepaal van heelwat meer roetewysers en brons- sowel as keramiekwegwysers op plekke van belang opgerig. Hulle was ook verantwoordelik vir die transportryersmonument wat vandag nog by Mac-Mac te sien is.
Vandag is dit weer 30 jaar later. Baie van hierdie wegwysers het weer verdwyn en baie is weer opgespoor. Meer plekke van belang is ook bepaal en Mpumalanga Erfenis is reeds besig met die vervaardiging van nuwe wegwysers – die keer van sement, om verlore wegwysers te vervang en nuwes aan te bring. Ook in die Krugerwildtuin het die Vereniging van Ere-veldwagters die Jock-wegwysers met duursame plastiek vervang. Die oorspronklike bronsbordjies – buiten die een by Numbihek – is vir veilige bewaring na Skukuza gestuur.
Op Donderdag 10 Maart om 18:00 gee Haarhoff ‘n audiovisuele praatjie van die jongste navorsing en neem hy sy gehoor op hierdie uitsonderlike reis deur die Laeveld op die roete van die ou transportyers. Die geleentheid is by die Barnyard-teater by Casterbridge ten bate van die Wildlife and and Environment Society of South Africa, of Wessa, teen ‘n koste van R50 per persoon.
‘n Verdere verslag oor die loop van die roete en die plekke waar daar oral nog wegwysers te sien is, sal binnekort hier gepubliseer word.
