Opinion

Laeveldse kinders het net íéts

Die samehorigheid van 'n klein dorpie geld selfs in die provinsie se hoofstad.

MBOMBELA – Noem dit die mieliepap-faktor.  Of die stof-faktor.  Of die kaalvoet-faktor.

Plattelandse kinders is nou maar net oulik.

Ek was twee naweke gelede by ‘n plaaslike hoërskool vir my werk.  Nie een kind het verby my gestap sonder om my in die oë te kyk en met ‘n “middag, tannie” te groet nie.  In plaas van om te vra: “Wie’s jou tannie?  Ek’s 27!” het ek geglimlag en teruggegroet.  Dis ‘n beter idee om die goeie maniere te waardeer.

Toe ek gisteraand by ‘n Nelspruitse gesin met drie kinders besoek afgelê het, het ek weer besef hoe plattelandse kinders net daardie íéts ekstra het.

My skoolloopbaan het my van Kampersrus na Swartwater toe en terug geneem.  Ek was ‘n graad aggie in Tzaneen en is daarvandaan Gauteng toe.

Pretoria was wonderlik, maar ek het na die opregte, rou menswees van die platteland verlang.

Op universiteit het ek my Bosveld- en Laeveldmaats raakgeloop.  Dit was die een blye wedersiens na die ander.  Hierdie plattelanders het hulle vinnig onderskei en baie is verkies tot Huisraadslede van hul onderskeie koshuise.  Wanneer daar ‘n aktiwiteit aangebied is, kon jy maar weet dat talle plattelanders hul hande sou opsteek om daaraan deel te neem.  Alhoewel ek nie in Mbombela skoolgegaan het nie, het ek vinnig ‘n hele paar vriende gemaak wat hier gematrikuleer het.

Vandag is een van my plattelandse kennisse ondervoorsitter van ‘n burgerregte organisasie wat baie vir Afrikaanssprekendes beteken,  ‘n Ander een het onlangs Open Afrikaans gestig, ‘n organisasie wat sê Afrikaans is vir álmal, ongeag jou herkoms.  Rolene Strauss, mejuffrou Wêreld 2014, het op die platteland grootgeword.  Die Laeveld het al hóéveel suksesverhale opgelewer.  Ek dink nou sommer vinnig aan Heineke Meyer en Karabo Mogane.  Ons Innibos-span het onlangs ‘n Fiësta gewen as die land se beste kunstefees.

Alhoewel ons in klein plekkies gebly het, het ons van kleins af geglo dat ons enigiets kon vermag.  Daar was nie so iets soos ‘n horison nie,  Die lewe was ‘n onuitputbare bron van geleenthede  Ons was altyd bewus van ‘n ondersteuningsraamwerk soos min – of dit nou by ‘n landloopbyeenkoms of ‘n redenaarskompetisie was.  Almal was aan jou kant.

Die skoolhoof, jou ouers, jou maatjie se ouers, die kantoor-tannie en die dominee en dié se vrou was daar vir elkeen – van die wenner tot die agteros het saak gemaak.

Iemand se pa het ‘n plaas gehad waarop avonture afgespeel het waarvan Robinson Crusoe net kon droom.  Die wildtuin was (en is) om die draai.  Dit het gevoel asof almal mekaar geken het – letterlik.  Min dinge voel so veilig as om altyd ‘n bekende gesig om jou te hê.

Sommige plekkies in die Laeveld is klein, maar Mbombela is ‘n stad.

Dis wonderlik dat ‘n mens dieselfde gevoel van samehorigheid ook hier ervaar.

Ons streek se kinders is bevoorreg.  Baie van hulle kan kaalvoet laerskool toe gaan. Hulle word groot in ‘n omgewing waar “ou skool” waardes nog ‘n plek het en waar daar waarde geheg word aan ‘n gesinstruktuur en kwaliteit tyd saam met geliefdes.

Die skole hier doen deur die bank hul deel om die belangrikheid van beginselvastheid en die regte prioriteite by leerlinge in te prent.  Skole kweek jongmense met karakter wat nie bang is vir uitdagings nie.  Dan is hulle boonop vriendelik ook.

Daarom is dit altyd lekker om ‘n jong Laevelder raak te loop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button