
MBOMBELA – Toe Walter Uncles vroeg in die jaar 1927 in die Laeveld aankom om diens te aanvaar as plaasbestuurder by die nuwe proefplaas in Nelspruit, was dit nie lank voordat hy ‘n nuwe voornaam gehad het nie.
Al was hy toe nog bloedjonk, was hy gou bekend as Oompies, die Afrikaanse vertaling van sy van. Van wie en in watter geselskap hy die bynaam gekry het, is onseker, maar tot en met sy dood 50 jaar later het hy as Oompies Uncles bekend-gestaan.
Jare later toe hy na sy uittrede ‘n suksesvolle kwekery bedryf het, was sy bekende logo, Oompies vir Boompies!, wyd bekend. Blaai ‘n mens deur die ou Laevelders – die min wat behoue gebly het – duik Oompies se naam gereeld op. In 1974, dis ook nou al 42 jaar gelede, het hy gaan sit en ‘n gereelde bydrae oor ou Nelspruit vir Die Laevelder van destyds geskryf.
Hierdie stukke bevat kosbare vertellings oor Nelspruit van vroeër. Hy skryf dit was net ‘n stasie met ‘n klein gehuggie wat hy hier aangetref het toe hy vroegdag van die trein afgeklim het. In sy leeftyd het dit gegroei tot ‘n bedrywige dorp en landbousentrum. Oompies Uncles – self sy Engelssprekende vriende het hom Oompies genoem – was een van die pioniers om gesonde en beproefde plantmateriaal en plantjies aan vrugteboere hier in die Laeveld beskikbaar te stel.
Die onderneming wat hy later op die been gebring het, Montana Kwekery buite Nelspruit op die pad na Pretoria, is vandag nog een van die markleiers op hierdie gebied.
Terwyl ons vanjaar Laevelder se 130ste bestaansjaar vier, is die plan om gereeld hier uit Oompies se vertellings aan te haal en te skryf oor hoe dit vroeër hier was.
Met sy aankoms op Nelspruit het Oompies veel minder gekry as wat hy verwag het. Van die sogenaamde Subtropical Experimental Station was daar geen teken nie en hy moes die hele plek nog self vestig.
Heel aan die begin moes Oompies in die dorp loseer en elke dag aanstap na waar die vier bakens vir die navorsingstasie geplant was. Die oogmerk was die ontwikkeling van ‘n proefplaas vir tropiese en subtropiese vrugte- en groentegewasse.
Die oggend van sy aankoms is hy op die stasie ontmoet deur mnr. Ritchi Henshall wat toe voorsitter van die dorpsraad was. Henshall na wie Henshallstraat later vernoem is, het hom oorkant die stasie na die Fig Tree Hotel geneem waar hy gebly het en hulle ontbyt geëet het. Die Henshalls was later ook suksesvolle motorhandelaars in Nelspruit. Hulle was die Ford-mense.
Na ontbyt het die dorpsklerk, SC Brown, wat op sy beurt weer sy naam gegee het het aan Brownstraat in Nelspruit se middedorp, hom gaan wys waar hy moes werk. Hulle het sommer oor die spoorlyne deur ‘n bloekombos en oor ‘n spruit koers gekies om te gaan kyk na die bakens van die stuk grond waar Oompies nog baie jare vorentoe sou arbei. Oompies skryf al wat daar was, was Sid Russell, die apteker se nege-puntjie-gholfbaan.
Die is later jare verskuif na waar die Nelspruit Gholfklub vandag is. Russellstraat in Nelspruit se Uitbreiding 2 is natuurlik na Sid, wat later ook ‘n stadsraadlid was, vernoem.
Arme Oompies het met sy aanstelling verstaan dat hy ‘n gevestigde proefplaas hier sou vind. Nooit met die aansoek vir die pos is hy vertel dat hy alles self moes vestig nie. Die enigste struktuur op die grond was ‘n ou rondawel van stokke en klei.
Dié moes dien as kantoor en pakkamer vir die ploegmuil se harnas en plaasgereedskap. Om homself die moeite te spaar om elke dag uit die dorp te stap, het hy later self ook hier sy intrek geneem. Heel aan die begin wou hy net padgee, skryf Oompies. Tog het hy uiteindelik vir 28 jaar in diens van die departement gebly en was hy grootliks verantwoordelik vir die aanvanklike fisiese vestiging van die proefplaas wat later die Landbouinstituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse sou word.
Met sy uittrede het hy ‘n stuk grond langs die grootpad by Alkmaar gekoop en Montana gevestig. Lank hierna nog sou die Laevelders hom steeds onthou as Oompies vir Boompies. Teen 1960 was Oompies Uncles ‘n gerekende verskaffer van plantjies aan die vrugteboere van die Laeveld. Montana Kwekery buite Nelspruit op die pad na Pretoria was ‘n bekende baken.


