
Dit word altyd met dieselfde plat, emosielose stemtoon gesê.
Die stemtoon herinner aan dié van ‘n robot in ‘n ’80s fliek.

Die een wat dit sê kyk dwarsdeur jou.
“The system is down.”

Daar is ander weergawes hiervan:
“We are offline.” Of “ons is van lyn af, probeer môre weer. ”
Die een wat my die meeste onderkry tref ‘n mens so net voor drie in die middag by die bank of by ‘n staatsinstelling.

En dit is nogal jammer.
Ek is vanoggend tydens ‘n besoek aan die Landdroshof ingelig dat hulle “system” weer “down” is. Dit is glo al ‘n week lank die geval. Ek moet as versagtende omstandigheid byvoeg dat die Departement van Justisie se datasisteme opgegradeer word. Die twee hande van my het toe maar soos in die ou dae tussen die klagstate deur gesoek na wat ek nodig gehad het.
So was die munisipaliteit se elektroniese rekords ook al vir weke foutief. Ek het in 2013 gereeld met hul eiendomsbelastingsafdeling te doen gekry en moes van tyd tot tyd deur hope papier grou om die dokumente waarna ek op soek was, op te spoor.
My soeke na draadlose internet oor die onlangse langnaweek was ‘n groot gesukkel. Armoedige wat ek is, wou ek vroeg iewers gaan plak en teer op beide die plek se ontbytaanbieding en gratis internettoegang. Toe kom dit: “ons is van lyn af.”
In Steiltes was die koffiewinkel s’n foutief. In Sonpark was geen plek oop nie. By I’langa het ek na drie probeerslae uiteindelik ‘n internetkonneksie opgespoor. Dit was 11:22 en ek moes duur kos bestel. Jy kon eiers met my gemoed kook.
“The system is down” het my al laat kla, teem, skree en huil (ja, ek het al gehuil. Moenie vra nie.) Ek het al briewe geskryf, medianavrae ingedien en selfs ‘n perskonferensie gereël. Klinkklare antwoorde kon ek nog nie kry nie.
Woordvoerders het met die volgende vorendag gekom:
“It is a mere hiccup we experienced while adapting to a new online program.”
“Die aanlyn era is vol uitdagings. Hierdie was een van hulle. Dankie vir u geduld en volgehoue ondersteuning.”
“This is not our portfolio to elaborate on. The IT department is devoted to finding a solution.”
“U navraag val buite ons jurisdiksie en sal na ons IT afdeling toe verwys word.”
Ek aanvaar dat IT outjies nie baie spraaksaam is nie, want geen IT-afdeling het my nog te woord gestaan nie.
“I don’t know what’s wrong, but we called IT.”
Laasgenoemde is ‘n gunsteling antwoord.
My oplossing vir die probleem kan nie juis ‘n oplossing genoem word nie, maar dit maak my rustig. Wanneer ek die huis verlaat, neem ek ‘n boek saam. Wanneer ek as kliënt iewers deur ‘n stadige sisteem opgehou word, sit ek en lees.
Wanneer daar vir my vertel word dat die sisteem buite werking is, vra ek altyd of ek deur die plek se harde kopieë mag werk. Dalk kan ek sodoende my eie navraag hanteer.
As dit om ‘n geldige rede nie kan nie, was ek my hande in onskuld en beloof om nie binne tien dae terug te keer nie.
Die sisteem behoort dan weer te werk.
As hy nie werk nie, gaan drink ek ‘n glas wyn.

