“Praat net ‘n bietjie sagter!”
As ek ‘n rand gehad het vir elke keer wat ek aan die ontvang kant was van hierdie bevel…

Ek praat hard.
Baie mense sê ek praat “te” hard.
Die woord “te” herinner my aan ‘n vreeslike kitch prentjie wat ek in ‘n ou tannie se badkamer gesien het:
Dit het onder ‘n prentjie van die breë en die smal weg gehang.
Behalwe vir die wete dat ek nie op die breë weg hoort nie, het ek ook besef dat ek nie “te” behoort te wees nie.
‘n Mens praat nie uit die kleinhuisie nie, het ek besef en my gedagtes oor die onderwerp vir myself gehou.
Maar die opdrag om nie “te” te wees nie, het soos ‘n lastige vlieg om my bly hang. Ek was bewus daarvan, maar kon dit nooit regkry om die verbod my eie te maak nie.
Vandag weet ek dat ek ‘n “te” mens is. Die Engels daarvoor is: I am in your face.
Jy weet jy is TE as…
- Jy gedurig gevra word om sagter te praat. Veral wanneer jy op die telefoon praat.
- Jy gereeld agterkom dat mense jou aankyk. Jy weet self nie hoekom nie. Jy’t al 100 keer gekyk – jy het nie jou klere onderstebo aan nie. Daar haak nie toiletpapier aan jou skoensool of gordel vas nie. Jou hare is gekam en jou lipstiffie sit waar dit moet. As jou opvoeding nie in jou pad gestaan het nie, het jy al lankal vir een van die mense gevra: “Wat kyk jy?”
- Jy het altyd ‘n opinie. Oor alles. Dis nie dat jy wil kwaad stook of rusie wil maak nie, maar daar is ‘n dinge waaroor jy sterk standpunt inneem. Mense meen jy neem “te” gereeld, “te” vurig standpunt in.
- Jou stellings kom sterker oor as wat jy beoog:
- Sommige “te” mense oordoen goed. Wanneer jy iemand kwaad gemaak het, sê jy te veel keer hoe jammer jy is. Soveelso dat jy die situasie meer ongemaklik maak.
- Ander “te” mense brabbel wanneer hulle op hul senuwees is of met buitengewone situasies soos spanning, hartseer, trauma of selfs groot vreugde te doen kry. Dit eindig nooit goed nie. Vra my.
Die Engelse noem dit “foot-in-mouth syndrome:”
Dit kom hierop neer:
Ek wens dit was ‘n geneeslike toestand.
Nou ja.
My liewe, liewe mede “te” mens.
Jy is nie alleen nie.
Ons “te” mense het darem ‘n hele paar sterk punte ook:
Ons is nie skaam nie. ‘n “Te” kan gewoonlik lekker partytjie hou. Ons ken ons rooiwyn te goed. ‘n “Te” vrou is gewoond daaraan om aandag te trek. As jy nie met selfvertroue gebore is nie, kry jy dit so met die lewe saam.
Ek en my groot mond het myself al in soveel penaries laat beland, dat ek ‘n meester geword het in krisisbestuur. Ek kan met oortuiging sê dat my soort onsself uit krisisse kan uitwriemel.
Ons kan redeneer en debatteer soos min. As jy iemand soek om ‘n saketransaksie te verseker, vra ‘n “te.”
Genade, wag… As jy enigiets soek, vra ‘n “te.” Ons praat so baie en/of so hard dat ons baie mense, baie vinnig leer ken. “Te’s” ken mense.
So: “Te,” jy’s oraait.
Lees ook:
Toe ek nog ‘n wedding singer was
DONDERDAG ”skinner” oor die mense in die hof







