BlogsOpinionSANParks

Liesbet in die Laeveld – Van satynpyjamas, ‘n skimmelmaan en ‘n hiëna met houding

Een maanligaand in die Nasionale Krugerwildtuin toe 'n skimmelmaan spokerig oor die landskap gaan en die gelag van 'n senuweeagtige hiëna histeries opklink... Of wag, was dit regtig 'n hiëna?

Dis toe in die Nasionale Krugerwildtuin wat ek skielik vir Britney Spears beter verstaan…
Toe ek skuins na middernag uit die toilet in die spesiaal opgerigte kamp in die Krugerwildtuin in my satynpyjamas stap, toe staan daar buite die deur ‘n uitgegroeide 100 persent hiëna in die dowwerige maanlig en wag op my asof ons ‘n afspraak het en hy ‘n aide de memoire op sy tablet gekry het .
Ek uiter toe ‘n paar ou Vrystaatse kragwoorde waarvan ek al vergeet het maar wat darem nie een met ‘n lang f begin nie.
Ek sien toe dis daai soort maan waarvan Creedence Clearwater Revival sing in “I see a bad moon rising.”
En al waaraan ek kan dink is hoe ons knap en bekwame gidse Jaco Buys en Jannie Jurgens, toe ons ook in die veld omring was deur vier sulke vreesaanjaende gekoldes vroeër die aand, ons gemaan het om te gaan sit op onse alies. Die gebaar werk nou glo soos ‘n kalmeerpil vir die angstige vierpotiges se spanningsvlakke. Ons het egter nie vroeër gaan sit nie maar meer skuiling geslaan, sommiges van ons sonder om ‘n druppel rooi wyn in die proses te vermors.
Ek gee toe maar die natterige vloer rondom die storte een kyk en dink toe satyn pj’s of nie, sit Sussie sit!
Kyk ‘n meisie moet haar standaarde hou.Ek is toe klaar minus haaipolvaais vir twee dae en my kuite so seer van plat stapskoene dat ek skielike krampe begin kry soos Dale Steyn wanneer die Proteas vrot vaar.Die pyjamas was ‘n troos teen haklose dae.
Die deur kon ek nie bykom om toe te klap sonder dat ek te veel rukkerige bewegings maak en ta ontstel nie. Ten Laeveldhemele wou ek nie soos ‘n sissie skree nie.
Die arme meisie wat die vorige nag ook ‘n gedierte teëgekom het en geskree het “Get me a ranger please!” was heeldag geterg.
Buitendien het van my mediakollegas ‘n harde dag in die bos en nog ‘n harder aand om die kampvuur agter die rug en verstaan ek dat hulp van die moontlik steeds onsobere oord nie te wagte kan wees nie.
Mens pla nou ook nie veldwagters wat renosterstropery moet bekamp met iets kleins soos hiëna-histerie nie.
So ek sit toe maar. En daar gaan sit ta toe nou ook, oftewel trek hy nou sy afdraand agterboude so bietjie meer onder sy voorlyf in en ons hou ‘n staarkompetisie.
Sulke tye herinner ek myself graag daaraan,sodat ek vreesloos kan wees, dat ek natuurlik geboorte gegee het sonder medikasie aan twee kneweltjies en sedertdien pyn kan vat as dit uitgedeel word.
Nie dat dit altyd help nie.
Maar ek verlang toe ook skielik vreeslik na my oorle ma en wonder wat sy sou doen synde bekend as iemand prakties.
Dis toe dat ek aangespoor deur haar niks nonsens-DNA ‘n plan maak, onthou van die gidse se Hiënakaans en vir ta sy eie roep namaak: “Whooooop!Whoeeooop!”skree ek toe daar in my satynpyjamas tot die Suiderkruis.
Siestog, en daar vou die ou karnallie, duidelik gestres.”Was dit iets wat ek gesê het?” wou ek nog vra, maar hy gee my so agterdogtige vuil kyk soos wat ‘n kaartjie-inspekteur op die Goodwood-treinlyn my laas gegee het toe hy vermoed het ek is minus ‘n gekoopte kaartjie en ta verdwyn toe die dieptes van die Laeveldnag in.
Ek bly toe sterk op die natuur se steroids en doen ‘n Wayde van Niekerk na my tent.
Paar minute later toe ek minus nat satynpyjamas in ‘n sweetpak net-net wil insluimer hoor ek ta snuffel aan die tent.Moontlik moes ek nie paar stukkies biltong tent toe gesmokkel het nie maar wat is ‘n Laeveldaand inniebos nou sonder repies souterige versterking?
Dis die dat ek toe maar weer “whoop!whoop!” met goeie gevolge.Ta verdwyn die duisternis in.
Toe iemand die volgende oggend terloops vra of ons gehoor het dat die luiperd van die een kant van die kamp na die ander kant geskuif het, was daar egter nie meer ‘n enkele woeps in my oor nie…meer ‘n gevoel van oeps!ek het dit weer gedoen!Dalk net een keer te veel… Whoooop!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button