Liesbet in die Laeveld-Daar’s renosterpiepie op Ouma se Puma’s. . .
Die dag toe ek 'n paar renosterwesies moes baba-sit, het 'n paar ligte mistykies my duur te staan gekom...
Die dag toe ek gevra is om vir ‘n paar oomblikke babawagter te speel vir ‘n beseerde renosterkleuter op haar eerste uitstappie saam met die ander spelerige renostertjies het ek min of meer soos ‘n skilpad verlore op die filmstel van ‘n Vin Diesel Fast and Furious-film gevoel. Mens kan maar sê ek was heeltyd ‘n tree of twee agter en het stadig na die Diep Laeveld-lug gehap.
Ons spring weg met ‘n Weigh More-vergadering want die krosie is almal beseerde of getraumatiseerde kleingoed en daar moet seker gemaak word hulle lê goed weg aan hul geliefde wortels en patats en ander snoeperye om fluks te herstel.
Probeer nou ‘n besige renostertjie weeg! Jy kan maar netsowel donderweer in ‘n fles probeer vang en toedraai. Maar uiteindelik het elkeen in die boma sy gewig op die skaal getrippel, en met boeppense dikgesuip aan bottelmelk, trek die klompie oorgeesdriftig al langs die bomaheining veld toe.
Die begin van die einde kan jy maar sê. Nie vir die kundige vooraan die span jong vrywilligers nie. Beslis vir die stadsjapie met die kamera.
Dit begin toe ek die klein mistykie gemaak het om ‘n hek oop te los wat nou maar liewers toe moes gebly het. Daar trek die troppie gehoringdes nog vinniger op pad na die weiveld; sonder respekte soos die oumense sal sê vir die minder vlugvoetiges onder ons.
Nie dat so ‘n klein karnallie juis ‘n ballerina op points is nie, maar tog dis ‘n bewegende meer as 300 kilogram missiel wat op huppelende pote met ‘n astrante draffie rats kan koers kry.
Kom jy in sy doelgerigte baan na soeter weiding, Boeta, betaal jy in ‘n blou kol daarvoor.
Been there. Done that. Got the somewhat torn t-shirt.
Kom ons stel dit nou maar ligkens dat ek geen hoogmode J-Lo oomblikke met rompe met slits vir ‘n paar weke oorweeg nie.
Opsigself is die renostertjies ‘n modepolisie op hul eie gewees. Toe ek nou in die spore van die meer gerekende baba-oppassers wil volg en ‘n twee liter koeldrankbottel wil gryp om voor die superatleet uit te hardloop, toe is dit nou tyd vir salige vloeistofverligting vir die renosterbaba sonder Pampers op my drafskoene wat ‘n kleinniggie uit New York na “wild Africa” gestuur het.
Hoe wild het die arme kind nou nie presies geweet sou die kniediep modder van die wilde Laeveld vir haar avontuurlike tante wees nie.
Daar nael ek voort onder die bloedige Laeveldson met renosterpiepie op my ontwerpersdrafskoene en ‘n bloukol op my bobeen. Dit nou als omdat ek nou nie gekonfyt is in die renoster-tuimeldroërdans nie.
Dis nou nie die Macarena of ‘n vastrap van die Klipwerfboere-orkes nie. Hoe swaarlywig die onnutse nou ookal mag lyk, as jy langs of voor hulle wil beweeg moet jy saam met die stroom kan vloei. Draf hy regs, beleef jy ‘n stroomversnelling na regs.Swenk hy links soos Willie le Roux in die agterlyn, verander jy sonder vrae vinnig in dieselfde rigting of hy pypkan jou vas.
Uiteindelik slaan ek die hek toe en gaan tel die fynere onderdeeltjies van my kamera en verlore waardigheid op. Met die spanleier en vrywilligers het dinge seepglad verloop. Nie eers ‘n sonbril het geskuif nie.
Nog is het einde van die kindertuinoomblik nie in sig nie. Die renosternuweling is uit tussen die groter maats in die kampie en almal rondom my verdwyn skielik op ‘n stuurwerkie.
Ek moet asseblief net ‘n oomblik ‘n ogie hou. Daar staan ek verdwaas en oorweldig soos ‘n ma op haar kind se eerste skooldag wat met ‘n nat snesie vir sussie met haar tassie toewaai.
“Pasop vir die groot kinders!” wou ek nog skree, maar sy draf nader om kennis te maak en gee die maats so ken-jou stampie soos wanneer mans by ‘n braai mekaar op die rug slaan.
Nee, wat Sussie gaan dit maak dink ek gerus na ‘n rukkie se ronddrawwery en plons pootuit in die sand neffe die heining neer.Net daar los my oppaskleuter die troppie en suiker uitgelate oor na die groter menere in die hoek.
Maar voor ek my kan keer snou ek die arme verwese drietjies, wat haar horings in die lug en ‘n paar kilogramme meer inwag, ‘n paar onbeleefde frases toe oor wat ek met hulle tietiebottels sal maak indien hulle haar sou seermaak.
Duidelik verstaan hulle Afrikaans want daar is ‘n oor en weer gesnuiwery en toe is hulle so jollie soos mense by ‘n basaar. Drink glad saam uit die waterbak.
Ek besluit om self ‘n blaaskans te neem en sak dieper in die boma-gange neer net om ineens in vyf pare nuuskierige ogies duskant die heining op my hoogte vas te kyk met bekkies wat slymerig blink soos ‘n Bokser wat biltong ruik.
En soos ‘n goeie babaoppasser besef ek dis snoepietyd! Terwyl ek deur die draad handevol lusern gooi en die tjankende gesiggies voer, weet ek dis als die moeite werd om te sorg dat hierdie buksies volwassenes kan word.
Daar is iets edel en ordentlik aan ‘n renoster.
Terwyl ek nog diep gedagtes dink, sien ek die skerp oortjies prik op en dis of hulle instemmend vir mekaar knik. Modderbad toe! Hulle hoor beslis die jongklomp se stemme waar die lafenissie voorberei word.
Ek onthou hoe spanleier vertel het renosters hou van roetine. Slaap. Eet. Pret. Kuier.#diegoeielewe
Ek ook. En daarom leun ek vir eers teen die boma met my rug teen die houtpale.
Renosterouma vir ‘n dag. Dankie tog die kleinkinders is vir eers huistoe . . .eh, boma toe . . .
