
Gister was in geheel ‘n fout. ‘n Glips. ‘n Ramp wat gewag het om te gebeur.
En toe gebeur het.
Dit was een van dáái dae. Ek het die oggend met twee Concertas afgeskop, want die ADD was weer woes.
Ons nuwe kollega, Pippa, was saam met my hof toe.
“Pippa, kom ons ry sommer met my kar,” het ek genooi.
Wanneer gaan ek leer dat ‘n mens nie ander aan jou hiper-ADD self blootstel nie?
“Waar is jou tru-spieëltjie?” het sy gewonder.
“Hier,” het ek geantwoord en hom onder die passassiersitplek uitgegrou. Die bruin kleeflint wat hom aan die spieël moes vashou, het soos ‘n vliegvanger teen die voorruit vasgekleef.

“Ek weet eintlik van beter,” het ek verskoning probeer maak en die versperring uit die weg geruim. Ons is hof toe met die Rooi Gevaar. Dinge het goed afgeloop, tot ons wou ry. My karsleutels was weg.
“Again?” het die sekuriteitswag gevra.
“This child,” het sy vir niemand spesifieks gesê nie en haar kop geskud.
Ons is eers na die Streekshof toe om die sleutels te gaan soek. ‘n Hoëprofielsaak sou enige oomblik begin en meer as 50 inwoners van Tonga het ver gereis om die verrigtinge by te woon.
Die dowwe hofverslaggewer moes egter eers almal se aandag op haar vestig. “Ekskuus, het u dalk my karsleutels gesien?” het ek vir die staatsaanklaer en elkeen van die vyf beskuldigdes se prokureurs gevra.
Die aanklaer maak toe maar die galery stil en hoor of iemand die joernalis se sleutels gesien het. Niemand het nie. Almal se gesigsuitdrukkings het dieselfde ding gesê: “Presies hoe dof moet jy wees om jou sleutels híér te kom wegsmyt?” Arme Pippa moes maar agterna. As ek sy was, sou ek ver weg gestaan het uit die vrees dat mense my aan my geselskap sou ken.
Ons is daarvandaan na die landdroshof toe. Die arme staatsaanklaer se pakke lêers het die plek vol gestaan en dit was so besig soos ‘n miernes, maar van my sleutels was daar geen teken nie.

Ek en Pippa is soos wafferse sekuriteitswagte na die Rooi Gevaar toe, gereed om hom te beskerm teen die dief wat hom met sy eie sleutel wou kom steel.

Dit was tyd om versterkings na die toneel toe te ontbied. Ons het ‘n polisieman geskakel. Hierdie ou is ‘n speurder. Hy is bekend vir sy deeglike ondersoekwerk. Hy ken strafwetgewing op die punte van sy vingers. Hy reageer vinnig op noodgevalle.

Sy reaksie op my situasie was klassiek. Hy het rustig teen ‘n bakkie se bak geleun, ‘n sigaret aangesteek en sy een wenkbrou gelig. “So, jy’t jou karsleutels verloor?” Het hy gesê-vra. “Dit verbaas my glad nie…”
Ek en Pippa het besluit om nog een keer te gaan soek. Die landdroshof was ons eerste stop. ‘n Saak was daar aan die gang en ons het ‘n administratiewe assistent gevra om ongemerk daar onder die prokureurs en aanklaer se neus te gaan soek vir die sleutel. Sy het dit sowaar gekry.
“Dit was onder ‘n hoop hoflêers,” het sy verduidelik.
Ons was terug by die kantoor. Pippa se lewe kon normaal verloop. Myne nie.
Ek het dit reggekry om drie afsprake vir gisteraand 18:00 te bevestig. My ma het altyd gesê dat die een hand die ander was. Wanneer iemand deur ‘n moeilike situasie saam met jou geworstel het, moet jy dit op jou beurt weer vir iemand anders doen. Toe Leen my na werk bel en sê dat sy haar sleutels in haar kar toegesluit het, het ek dadelik gespring om haar te help. Daarvoor sou ek Hazyview toe moes ry om haar spaarsleutels te gaan haal.
Die kantoor was skaars gesluit toe my telefoon weer lui. Dit was Willem. “Haai! Ek is nou in Witrivier.” Ek het skoon vergeet dat my kuiergas van Skukuza af op pad was. Willem moes vir my wag in Witrivier. Ons sou daarvandaan Hazyview toe vir Leen se sleutels, want die een hand was die ander.
Toe nou nie.
Heleen se oproep het my soos ‘n plathand getref. “Kom jy?” Sy het vir my ‘n kaartjie gekoop vir die skool se revue. Man, as jy nie ‘n kind in die skool het nie, onthou jy nie die goed nie.
Nou ja. Krisis op krisis. Dat Murphy, Karma en ek gereeld bots, is geen geheim nie.
Nee, ek het nie ‘n verskoning gehad vir een van die drie nie. Leen het iemand meer betroubaar gereël om haar te help. Willem het my sleutels kom haal en vir homself ‘n heerlike maaltyd in my huis gaan voorberei en ek het saam met Heleen die revue gaan kyk. Ek het vanoggend in my dagboek gesien dat ek haar meer as ‘n maand gelede beloof het dat ek daar sou wees.
Ek werk daaraan.
Lees ook: Dis buite beheer, maar onder beheer


