Elke reis gaan met `n mate van afwagting gepaard. Ná maande van beplan en uitsien het ek Vrydag versigtig opgewonde op Innsbruck se stasie deur die treinvenster vir my man en seun totsiens gewaai. Die begin van my eerste alleenreis in jare. Nelspruit toe, Innibos toe.
Versigtig opgewonde, want ondanks my beste bedoelings om tog net nie in `n bang en pessimistiese expat te verander nie, het Witrivier se Annatjie Myburgh en die munisipale opstande in Tshwane kort-kort gedreig om my gedagtes te oorheers. Om nie te praat van al die moddergooiery op Facebook nie.
Toe loop ek die eerste Suid-Afrikaners op München se lughawe raak en al my angstigheid verdwyn soos mis voor die son. Groepies landsgenote wat in Afrikaans, Engels, isiZulu en isiXhosa lag en skerts. Sommige reis saam, terwyl ander kennis maak in die lang rye om in te boek en deur sekuriteit en paspoortbeheer te gaan. Hartlik, soos net ons kan.
Ná daardie eerste „tuiskoms“ in München, was daar `n hele klompie ander mense en gebeurtenisse wat my trots gemaak het om `n Suid-Afrikaner te wees en my tuiskoms vreugdevol gemaak het.
- Sifiso, die vlugkelner van die SAL, wie se lof `n paar keer deur die Duitse gesin langs my besing is. Hy het ons nie net uitstekend bedien nie, maar boonop gelyk of hy dit geniet. Toe die Duitse vrou nie weet watter rooiwyn om te kies nie, het hy haar sommer `n botteltjie van elk gegee.
- Die man by die sekuriteitbeheerry by OR Tambo wat vir my gevra het by watter hek ek my vlug na Nelspruit moet haal. Nadat ek my swaar rugsak en ander handbagasie met `n sug neergesit het om na my instapkaart te soek, het hy dit ewe vriendelik weer opgetel, in my hande gedruk en in mooi Afrikaans vir my gesê dis oukei, ek kan maar net in die ry gaan staan.
- Die Afrikaanse ma wat my in my mou laat glimlag het oor haar tipies Suid-Afrikaanse betugtiging van haar twee klein seuntjies. “`n Mens sê dit gaan goed, dankie. Jy het géén maniere nie,” het sy geraas toe `n lughawewerker vir hom vra hoe dit gaan en hy nie geantwoord het nie.
- Die lugwaardin op die Nelspruit-vlug wat nie net met die gewone “goodbye, totsiens, hambani kahle” gegroet het nie, maar ook `n opregte “God bless”.
- Die jong man by die karhuurmaatskappy wat my in Afrikaans bedien het, al het hy gesukkel met die Afrikaanse name vir die Engelse bedryfsterme.
- Die rooibokke wat voor my oor die pad geloop het by die Kruger Mpumalanga International Airport en my summier die huurkar se neus in die rigting van die Kruger Nasionale Wildtuin wou laat draai.
- Vriendin Irma en kinders Sian en Elzane wat my soos `n langverlore familielid by haar huis ingewag en gelag het oor my “Europese” manier van soen.
- Die Bokke wat vir Ierland gewen en vir `n feestelike rugbykyk-ervaring by Emnotweni Casino se Boktown gesorg het.
- Die dierbare Elizabeth Kunene, engel van `n huishulp wat ek in die 90’s en vroeë 2000’s met Irma gedeel het en wie se onverbloemde blydskap en stywe omhelsing Maandagoggend my tuiskoms in Nelspruit perfek afgerond het.

Linda en Elizabeth.
Linda skryf weer vir ons
Linda de Beer is ‘n oud-verslaggewer van Laevelder en Beeld wat ses jaar gelede saam met haar man en seun op `n avontuur na Oostenryk vertrek het. Hulle bly in Tulfes, `n bergdorp met minder as 1 000 inwoners buite Innsbruck in Tirol. In die winter ski hulle en in die somer stap hulle die berge plat. Met sy sentrale ligging, is Innsbruck ook die ideale vertrekpunt om die res van Europa van te verken.
Ná `n werkpouse om as tuisblyma in Oostenryk gevestig te raak, het Linda verlede jaar met mening begin om `n vryskutloopbaan te vestig. Sy het `n internasionale kliëntebasis en word gereken as `n top-vryskutskrywer van die aanlyn-werkplek Upwork.
Linda sien uit daarna om tydens vanjaar se Innibos vir Laevelder en Muskiet te skryf. Sy gaan ook haar persoonlike indrukke in `n blog, ExpatInnibos, met ons deel.
