BlogsOpinion

Laeveldse verlange na vanmeleë se dieredae

So waag ek dit 'n jaar of wat later met haar as in my rugsak deur die sekuriteit by München se lughawe - al die nodige bewyse byderhand, maar steeds op my senuwees.

Dana Snyman se Hond maak herinneringe aan troeteldiere wakker. Almal wat al ‘n hond gehad het, het ook ‘n storie van die dag toe hulle van hul vierpotige vriend moes afskeid neem.

Dit het Dana opnuut besef toe hy sy byna 6 000 Facebook-vriende gevra het om hom met hondestories te help toe die muse hom verlaat het terwyl hy hierdie eenmanvertoning vir Frank Opperman geskryf het.

Meer as 400 mense het op Dana se versoek gereageer met lang vertellings oor hul belewenis van die verlies van ‘n hond. Mý hondestorie begin in Mbombela, maak ‘n lang draai in Oostenryk en eindig in KwaZulu-Natal.

Dit was ‘n Novembermiddag in 2004 toe ons die eerste keer van een van ons drie worshonde moes afskeid neem. Langenhoven het die vorige dag ‘n beroerte gehad.

Dit was stil in die kar op pad huis toe van die Van Wijkstraat Voël- en Dierekliniek, behalwe vir ‘n snuif elke nou en dan. Toe sit Coenraad die radio aan. Ons het in Piet Retiefstraat gery toe Eva Cassidy Sting se “Fields of Gold” begin sing het. Dit het as “Langes se song” bekend geword.

Langenhoven se as is die volgende jaar in ‘n houtkissie saam met ons Potchefstroom toe. Dit het nog op die kaggelrak gestaan toe ons in 2010 die geleentheid kry om ‘n tyd lank in Oostenryk te gaan bly. Stoffel en Lientjies moes saam. Hulle het mikroskyfies gekry en die nodige bloedtoetse is by Onderstepoort gedoen.

Stoffeltjie se rug en blaas het kort voor ons vertrek finaal ingegee. Op ‘n warm wintersdag in die tuin van my ouerhuis by Greytown het ons vir oulaas sy borsie gevryf terwyl ons jarelange gesinsveearts hom sy laaste inspuiting gegee het.

Hy en Langenhoven se as is saam met hul Beeno-blik op die wal langs al die diere van my kinderdae begrawe. Lientjies, die wilde jagtertjie wat op haar dag met ‘n Mosambiekse spoegkobra afgereken het, is toe die enigste dierekind wat in Julie 2010 saam met my en my mensekind ‘n vlug na München gehaal het.

Sy het goed aangepas in Oostenryk, al moes sy met haar kort beentjies deur die sneeu ploeter om te gaan piepie. Mettertyd het Lientjies egter al moeiliker begin sien en haar hart het ingegee. Kort voor ek en Mattheus in Julie 2012 alleen in Suid-Afrika sou kom kuier het, het selfs die hartpilletjies nie meer gewerk nie. Ons het met swaar harte gegroet.

Ek was hier in Lientjies se geliefde Laeveld toe Coenraad met die tyding bel. Hy het pas die laaste rit saam met haar afgelê. En kan ek raai wat het oor die radio gespeel op pad na die veearts? Niks anders nie as “Fields of Gold”, dié keer deur Sting self gesing.

Trane was gewaarborg, maar ook troos. Dit was ons hartswens dat Lientjies se laaste rusplek hier in Afrika by haar twee “boeties” moes wees. So waag ek dit ‘n jaar of wat later met haar as in my rugsak deur die sekuriteit by München se lughawe – al die nodige bewyse byderhand, maar steeds op my senuwees.

Daar roep hulle my wragtag om my rugsak oop te maak. Ek begin so ewe by die middelste kompartment waar die as is, maar die man beduie nee, hy wil sien wat is agterin.

Oukei dan, dink ek, en wys hom die ekstra klere wat ek vir Mattheus ingepak het.

Ons drie drolle, soos ons liefderyk (ja, regtig) na hulle verwys, rus almal nou saam op ‘n plaas in die KwaZulu-Natalse Middelande. Maar dis hier in Mbombela, tussen al die Innibos-feestelikhede, waar ek die meeste na hulle verlang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button