
Miljoene mense het troeteldiere en honderde mense geniet die bietjie natuurlewe soos voëls in ons dorpe en stede – maar waarom wil mense vuurwerke skiet? Buiten dat dit jou geld kos en gevaarlik is vir jou kinders, is dit ook baie wreed teenoor diere en voëls.
Een selfsugtige aand van onnadenkende mensegedrag is hel op aarde vir hulle.
Dié wat sê diereliefhebbers moet net hulle honde daardie aand oppas… Mag diereliefhebbers dan nooit weer weggaan op Oujaarsaand nie, of wat van vakansies? Want ja, baie mense reël toesig vir hulle diere maar hulle is vreesbevange en kalmeermiddels werk nie. Heinings en harde musiek werk ook nie.
Dan hoop ek verder dat al die mense wat voor Kersfees hulle honde en katte by die DBV gaan aflaai het, lekker vakansie gehou het terwyl hulle die doodsnaald ontvang het. Onthou by die DBV is daar net beperkte hokruimte en daar moet gedurig plek gemaak word.
Ek hoop ook die mense wat hul honde op OLX gratis aangebied het, het lekker vakansie gehou terwyl jou troeteldier dalk aas geword het vir hondegevegte. Word wakker, mense! Gaan kyk na die DBV se Faceboek-blad en sien watter wrede goed daar buite aangaan.

