BlogsOpinion

Braaibroodjies kan jou lewe red

Wie gaan iemand karnuffel wat vir hom 'n braaibroodjie aanbied?

Ek droom al sedert kleintyd van daardie spesiale oomblik.

Die man van my drome sak af op een knie. Hy hou iets agter sy rug vas en bring dit te voorskyn.

Dis ‘n braaibroodjie!

Nou wag ek vir die groot vraag.

Sy oë is die skynsel van sout en peper. Dit begin traan – is dit van rou emosie of rou uie?

Dis asof hy nie sy woorde kan uitkry nie. Is dit ek wat sy asem wegslaan?

Of het ‘n hy skelm happie gevat en hom in ‘n vuurwarm stuk tamatie vasgeloop? Die tamatie in so ‘n broodjie brand mos al ‘n mens se sondes weg.

Sy stem kraak wanneer hy die groot vraag vra.

“Sal jy my braaibroodjie met my deel?”

Jy kan my met ‘n veer omtik. Watter tipe mens deel sy braaibroodjies?

“Ek is nie gereed om ons verhouding na die volgende stap te neem nie,” antwoord ek met ‘n strak gesig. “Daar is sekere dinge wat ‘n mens net nie buite die huwelik doen nie. Om ‘n braaibroodjie te deel is een van daardie dinge.”

Daar is net een manier waarop hy die situasie kan red. Nie met ‘n bos blomme of sjokolade nie, maar met ‘n dosyn braaibroodjies net vir my.

BRAAIBROODJIE.

Dis die oorspronklike towerwoord – “asseblief” en “dankie” kan gaan slaap. Braaibroodjies staan vir niks verkeerd nie. Wie kan nou nee sê vir ‘n stomende, vuurwarm enetjie?

Onthou jy vir Jakob en Esau van Genesis?

Ek het nog altyd gesukkel om te verstaan hoe Esau sy eersgeboortereg kon verruil vir ‘n pot lensiesop. As dit vir ‘n braaibroodjie was sou dit meer sin gemaak het. Genade, ek sou my eersgeboortereg vir selfs net ‘n kwart van ‘n braaibroodjie verkoop het.

Myns insiens is hulle meer kosbaar as goud, diamante, platinum en steenkool. As die wêreldbank, die VN en die hele kaboedel maar net wil saam stem…

Die wêreldekonomie sou heel anders gelyk het as braaibroodjies die standaard ruilmiddel was. Ons sou koning gekraai het, want niemand maak ‘n braaibroodjie soos ‘n Suid-Afrikaner nie.

Hier in Suid-Afrika duur hofsake mos ‘n ewigheid. Ek stel voor dat ons dispute op ‘n braaibroodjie-basis bylê. Siviele sake kan tjop-tjop afgehandel word. Die skuldige party bewys sy berou met ‘n braaibroodjie. Waar beide partye skuldig was, maak almal saam braaibroodjies.

Bullebakke hou ook van braaibroodjies. As ‘n Fris Fanie jou te lyf wil gaan kan ‘n braaibroodjie jou lewe red. Wie gaan iemand karnuffel wat vir hom ‘n braaibroodjie aanbied?

Jy’s reg. Niemand nie.

Nog ‘n ding wat vir my verbysterend is, is die hoeveelheid skoonheidskompetisies in hierdie land. Daar is ‘n Mejuffrou-iets-kompetisie in elke dorp. Waarom is daar nie ‘n Mej. Braaibroodjie nie? Daarin lê veel meer meriete.

Die maak van ‘n behoorlike braaibroodjie moet ‘n voorvereiste wees vir die kroning van Mej. Heelal.

Dis immers net so belangrik soos wêreldvrede.

KEN JY HIERDIE BRAAIBROODJIE-MEMES?

  1. Die groot vraag.

2. Warm, warmer, tamatie.

3. Wêreldvrede – ‘n kitsoplossing. (Oorspronklike beeld vanaf YouTube.)

4. Skoonheid…

Lees ook:

How to nail your first job

Why university is not always the best idea

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button