BlogsOpinion

Leser se brief: Leser betreur besoeker se skandelike optrede

Jannie Botha skryf:

Daar is deesdae baie mense wat weens verskillende redes werkloos is.

Die meeste van ons probeer met waardigheid ons koppe hoog hou. Die dames bak koekies, beskuit en koeksisters. Ander maak allerhande goedjies of groei blommetjies en sierplante. Ons verkwansel dit op verskillende maniere.

Die meeste supermarkte, slaghuise en kwekerye is ons simpatiek gesind en dryf handel met ons.

Die doel van dit alles is om ‘n ekstra inkomste te kry in ‘n erg onsimpatieke wêreld. Dit is baie mense se enigste inkomste.

Ek kweek self plante soos impala- en koedoelelies. Ek verkoop myne Saterdae langs die pad by die Steiltes bushalte. Partykeer verkoop ek niks, en ander kere gaan dit beter. Gelukkig gaan dit selde regtig sleg.

Maar verlede Saterdag, om ongeveer 13:00, stop ‘n wit Ford Ranger dubbelkajuit-bakkie, met vermoedelik ‘n KwaZulu-Natalse registrasienommer (dit was in ‘n tipe sierskrif geskryf) waar ek my plantjies en hout verkoop.

Twee vroue en ‘n gryskop man klim uit en laai drie woestynrose agter op die bak. Die man plak R150 neer en verklaar dat hy nie meer as R50 per plant betaal nie. Hulle klim toe terug in die bakkie en ry.

Daar is ‘n duidelike bord wat die prys as R150 per plant aandui. Daardie plante het my drie jaar geneem om so groot te groei. Ai tog, meneer!

Een van jou vriende of familielede sal wel hierdie brief lees en julle sal weet dat jy ‘n ou man wat ‘n pensionaris is en sy waardigheid in die moelike lewe van vandag probeer behou, van R300 ontneem het.

Kyk smôrrens na die blomme, sien die nattigheid daarop en weet dat dit nie dou is nie maar trane, trane van skande.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button