BlogsOpinion

Ek kom nie los van Innibos

En ons almal sit met 'n postapokoliptiese mentaliteit.

Dis Donderdag. Dag vier ná Innibos. My kop is seer, my voete sleep en ek is so gaar soos ‘n well-done steak by Spur. Die nadors vang my nog so af en toe en wanneer ek my oë in die nag sluit, kry ek flitse van konserte en stalletjies en pretritte en, en, en…

Wanneer ek in die kantoor instap, is alles soveel stiller as ‘n week tevore – die stilte ná die storm.

In hierdie postapokoliptiese (nee, postapokoBOStiese) tyd is dit asof almal die stukkies van hul normale lewe, voor die fees probeer optel en aanmekaar probeer las.

Maar hier, op dag vier, het ek besluit dit is tyd om op te staan en kliphard te sê: “Ek is ‘n oorlewende.”

LEES OOK: Hou op kla en eet ‘n sny koek

Want, glo my, om Innibos te oorleef, gebeur nie net sommer nie.Ek het weke voor die tyd die waarskuwings gehoorsaam dat dit amper tyd is vir die fees om te tref.

Ek het vitamiene begin drink, tekkies gaan koop en soveel as moontlik slaap probeer inkry.Hoewel hierdie my eerste Innibos as joernalis was, was ek voorheen self ‘n feesganger en was ek onder die indruk dat my voorbereiding voldoende was.

Dit was nie.

Die kunswarrelwind het my voete totaal onder my uitgeslaan en hoewel dit chaos was en die nagevolge nie na wense is nie, het ek elke oomblik daarvan geniet.

LEES OOK: Dé! Vat my besigheidskaartjie

En maak nie saak hoe baie ek moes rondhol of hoeveel keer ek vir mense moes verduidelik waarom ek foto’s neem of hoeveel keer ek na die koeksisterkompetisie moes gaan nie, dit was alles die moeite werd om nou hier te kan staan en sê: “Ek is ‘n oorlewende.”

Maar meer nog: “Ek is ‘n oorlewende van die heel beste fees in die land.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button