
Baie dinge kan in vyf jaar verander. Neem die matriekafskeid as ‘n voorbeeld. Ek het myne vyf jaar gelede gevier. Nadat een van my goeie vriende, wat ook my rok gemaak het, vir my gesê het ‘n swart rok gaan my “soos ‘n kruis tussen Morticia Addams en Lady Gaga” laat lyk, het ek toe maar vir rooi gegaan.
My pa het ‘n kar by een van sy vriende geleen, my metgesel was my beste vriend se broer en my ma het my foto’s op ‘n mik-en-drukkamera geneem. ‘n Paar familielede het by ons huis opgedaag, meer met die vooruitsig op gratis sjampanje as om my te sien. Dit was dit. En ek was gelukkig.
Ek het onlangs egter die voorreg gehad om twee bekende skole se matriekafskeidgeleenthede af te neem. Hoewel ek meegesleur was deur die absolute sprokiesagtigheid van die affêre, is daar tog ‘n paar goedjies wat my ontstel het. By die een skool was die gr. 11-leerlinge die kelners. Hierdie tradisie is min of meer dieselfde by enige ander skool. Hier het die kelners egter elkeen hul eie tafel gehad en moes hulle almal aan tafel se name, gesigte en eetgewoontes vooraf leer.
LEES OOK: Die ystervroue om ons
Die arme bloeitjies was so op hulle senuwees dat hulle die crib-notas op hulle arms neergepen het om te verseker dat Jan of San tog net nie ‘n allergiese reaksie kry nie. In my tyd het jy opgestaan en vir jouself gaan skep en as jy allergies (of vol fiemies) was, het jy dit net nie ingeskep nie – so maklik soos dit.
Nog ‘n ding wat my opgeval het, is die families van die matriekleerlinge. Nee, nie die ouers nie. Ek praat van die aangetroude niggie se sussie se kind wat ‘n ontwerpersrok vir die een foto dra waarin sy dalk gaan verskyn. En almal daag saam op om te sien waar die matrieks aankom en dan word daar gegil – soos wat jy gil wanneer diere in die dieretuin toertjies doen.
Dan is daar ook die duisende rande wat bestee word op die rok of die pak, hare, grimering, skoene, motors, die fotograaf en allerlei ander tierlantyntjies.
My opinie: Hou dit eenvoudig. Deel die oomblik met hartsmense wat die res van jou lewe saam met jou gaan wees. Spaar die geld vir studies of ‘n motor of ‘n reis en geniet net die aand sonder enige voorgee.
LEES OOK: Klink ‘n glasie op Marlothpark
