Opinion

Leser se brief: Leser kritiseer taalgebruik

CP Schrenk skryf:

Met verwysing na “Span pak reusetaak aan om krok met rivier te herenig”, Dinsdag 7 Augustus.

Graag wil ek my verbasing verduidelik aangaande ons nuwe Suid-Afrika.

Baie het verander, party ten goede, ander nie so goed nie.

Reptiele het nou monde, mense het weer bekke. Bogenoemde berig wys ‘n krokodil het ‘n mond, net so het my skoonma ‘n bek gehad. Sy was glo nie op haar bek geval nie. ‘n Stil ou het ‘n bek vol tande. Besigheidsmense het gladde bekke.

Regeringsamptenare se beloftes is net bekpraatjies. ‘n Ou wat baie praat het ‘n bek vol.

Hulle sê ‘n taal moet groei. Myne het onder my uitgegroei. Ek sal moet opvang!

Die krokodil is ook met ‘n riem opgetrek. ‘n Riem word van beesvel gemaak, slegs deur veeboere, en is net so lank soos ‘n bees. Was dit ‘n riem?

Nou ja, sekere dinge is maar moeilik om te verstaan.

Het ek nou ‘n bek of ‘n mond? Laat ek eerder my bek hou.

Ns. ‘n Rivier het mos ook ‘n monding in die see. Het ‘n grot ook nou ‘n mond?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button