
Die doel van hierdie skrywe is om ‘n lansie te breek vir die mediese dienste wat in Mbombela beskikbaar is en nie aldag deur ons as inwoners waardeer word nie.
Gereeld hoor ‘n mens van die treurmare wat mense so graag versprei vanuit hulle ondervinding.
Ek self het ook in die verlede die spesialissorg van die stede verkies. Twee keer was daar aan my rug werk gedoen in Pretoria en sedert die tweede prosedure het ek konstante pyn verduur. Ek het met ‘n hangvoet opgeëindig.
Eindelik het die pyn en ongerief aan my “goeie” been so ernstig geraak dat ek verplig was om weer hulp te soek. Hierdie keer was die besluit dat ek plaaslike advies sou inwin.
Dit het my gebring by dr. Johan du Preez, ‘n neurochirurg. Na die nodige X-strale en MRI-skandering en twee uur lange konsultasies is die besluit geneem om te opereer. Dit het op 24 Julie plaasgevind. Omdat my geval gekompliseerd was, het die prosedure meer as agt uur geduur.
Dit is nou drie weke later, ek stap die wêreld vol sonder enige pyne, alhoewel die hangvoet nie herstel kon word nie.
Die bonus was dat ek geen teken van ontsteking getoon het nie. Die hospitalisasie was by Mediclinic Nelspruit. Met absolute vrymoedigheid kan ek almal aanraai om die plaaslike praktisyns te ondersteun. Hier is wonderlike, bekwame, gespesialiseerde mense.
Hiermee my opregte dank aan Du Preez, sy span en die hospitaal se personeel.
