
MBOMBELA – Ek haat dit om te bestuur, soveel so dat ek eers op 21-jarige ouderdom my lisensie gaan doen het en soveel dat ek slegs ‘n outomatiese lisensie kon kry (die hand-oog-koördinasie was nog nooit goed nie).
Toe ek uiteindelik op die pad kom, het ek die heel eerste keer padwoede begin verstaan. In Mbombela is daar veral ‘n paar dinge wat hierdie woede aanwakker.
Die eerste hiervan is verkeersirkels. Sal die persoon wat 100 % seker is wat om by een van die stad se verkeersirkels te doen, asseblief vir my en die res van die dorp kom verduidelik. Ek het nou al begin ander roetes ry net om die sirkels te vermy, maar in hierdie dorp is hulle óral.
Die volgende element wat my boos maak is voëls. As ‘n klein dogtertjie het ek altyd met my ma geraas wanneer dit lyk of sy een van die padduiwe gaan doodry.
Haar antwoord was altyd: “Ek ry nie in hulle bome nie so hoekom loop hulle op my pad?”
Ek was liederlik omgekrap en het altyd gesê dat wanneer ek bestuur ek nooit ‘n onskuldige ou voëltjie sal raakry nie. ‘n Ruk gelede het ek egter die heel eerste keer ‘n duifie op ‘n hoofweg vermoor.
Ek het my kar langs die pad gestop en onophoudelik begin ween. Vinnig het ek egter besef ek kan nie elke liewe keer wat ek ‘n voël tref begin huil nie. So wanneer ‘n voël nou onder wiele beland, sien ek dit as miljoene wurmpielewens wat ek red.
LEES OOK: 10 dinge wat my bloed laat borrel
Voetgangers – Hierdie spesie verbeel hulself mos dat daar zebra-strepe oral is. Vir hulle wil ek graag net sê: ‘n Blikkie is vyf punte werd, ‘n mens is ‘n honderd – ek moet baie blikkies tref om ‘n mens se punte op te maak so moet liefs nie voor my kar inloop nie.
Nog ‘n v-woord wat sy tol eis is varke. Padvarke, straatvarke, sypaadjievarke – noem hulle wat jy wil. Hulle dink die pad behoort slegs aan hulle. Hulle ry gewoonlik groot wit bakkies of taxi’s en het geen probleem om voor jou in te druk, op jou agterent te ry of om onophoudelik op hul toeters te lê nie.
Ongelukkig het ek ‘n werk gekies wat vereis dat ek gereeld agter die stuurwiel inskuif en voel ek gereeld hoe my termometer die rooi in skiet.
LEES OOK: Ek is nie jou babe, bokka of beautiful nie
