
Ek woon in Steiltes maar deesdae kry ek skaam om vir mense te sê in watter kompleks ek woon, omdat daar regdeur die week sakke rommmel lê.
Die munisipaliteit kom haal dit elke Maandagoggend, maar mense begin amper dadelik weer om hul vullis uit te sit en daar staan dit dan die hele week.
Dit gaan al vir lank aan. Dit is asof die hele Steiltes besluit het, dit is hul stortingsterrein.
Teen Donderdae lyk dit soos ‘n varkhok. Ek het al mans gesien wat ver woon en met bakkies hul tuinrommel daar aflaai. Almal gebruik die hoop om enigiets te kom stort.
Ons het al briefies opgesit, maar dit help nie.
Dit is ‘n gesondheidsrisiko ook en aswaens laai nie alles op nie – as iets nie pas nie, los hulle dit net daar.
Ek doen ‘n beroep op my mede-inwoners van Steiltes: Sit asseblief jou vullis op Maandagoggende uit voor die aswa kom, nie al die naweek voor die tyd nie. En sit dit voor jou eie hek, nie voor ander mense s’n nie.

