‘n Valentynsdag in die donker
Hoe om hierdie Valentynsdag te midde van beurtkrag te oorleef.

Jou plan is al maande lank gereed. Jy het julle sitplekkie by jul gunstelingrestaurant bespreek. Die romantiese komedie vir na ete is reeds in die DVD-speler en die roomys wat julle beplan om tydens die rolprent te eet, lê in die vrieskas en wag.
Maar toe tref beurtkrag.
Die restaurant kanselleer jou bespreking want hul kragopwekker is gesteel. Jou DVD sit in die speler vas wat weens vorige kragonderbrekings nou foutief is, en die roomys (of eerder die gesmelte roomys) het jy gisteraand uit desperaatheid en frustrasie alleen in jou bed gesit en eet.
So wat nou?
‘n Maanligpiekniek is nie ‘n opsie nie want dit reën en die Laeveld se muskiete en geitjies baljaar die tyd van die jaar. ‘n Ete tuis is ook moeilik want sonder krag loop albei van julle die heeltyd in goed vas, en jou geliefde dink glad nie meer dis snaaks as jy met jou Freddy Krueger-masker agter die deur wegkruip nie.
LEES OOK: Snaakse tafelmaniere by restaurante maak dat sommiges eerder tuis moet eet
Gelukkig is daar ‘n oplossing. As jy hierdie plan stap vir stap volg, sal jou aand ‘n sukses wees.
1. Klim in die kar sodra die krag afgaan.
2. Gaan na McDonald’s en kry ‘n ShareBox. Jou geliefde gaan dink dit is oulik dat jy wil deel, maar nie so oulik dat een van julle honger ly nie.
3. Koop nog ‘n ShareBox.
4. Ry na een van jou vriende wat ‘n kragopwekker het.
5. Stop en klim uit.
6. Verduidelik dat jy hier is om die dag van liefde te vier en dit graag met hulle wil deel (gee die tweede ShareBox aan hulle). Verduidelik ook dat die dag oor mededeelsaamheid en ware vriendskap gaan, en loer onderlangs na hul kragopwekker.
7. Wag dat hulle jou en jou geliefde innooi.
8. Indien hulle nie doen nie, heraal stappe drie tot sewe totdat een van jou vriende julle vir die aand akkommodeer. (As niemand jou innooi nie lê die probleem duidelik by jou of jou geliefde en moet beide van julle dalk na Valentynsdag introspeksie doen).
Let wel – kerse is nie ‘n oplossing nie. Ek en jy weet albei jy is eintlik ‘n gevaar vir die mensdom en ‘n oop vlam is net ‘n onnodige risiko.
LEES OOK: Cyberbullying: What moms and dads should know
