
Dis vroeg op ‘n Saterdagoggend. Jou wekker gaan douvoordag af en jy druk hom dadelik dood.
“Dis mos Saterdag. Ek het heelweek hard gewerk, vandag is my kans om bietjie te rus,” sê jy saggies vir jouself.
Jy trek die kombers snoesig oor jou kop en dan hoor jy dit: “Het iemand my ander spykerskoen gesien?” en jy besef dis weer daardie tyd van die jaar – Interhoër.
Jy sleep jouself uit die bed uit en ‘n halfuur later prop jy die kinders met sportoerusting en vlaggies in die kar. Die gees kom ook saam want die onnies het gesê hulle moet dit bring (hoewel, dit net jou kopseer van die hele week se stres vereger).
Wanneer jy hulle by die skool aflaai, begin jou dag eintlik eers, want daar word natuurlik van jou as ouer verwag om hierdie belangrike dag by te woon.
LEES OOK: Snaakse tafelmaniere by restaurante maak dat sommiges eerder tuis moet eet
Gelukkig onthou jy Laevelder se gids om as toeskouer te oorleef. Hier is wat jy vir die dag nodig het:
1. ‘n Verkyker: Hierdie dag gaan jou beslis meer oorweldig as skoolvakansies in die Nasionale Krugerwildtuin. En jy gaan die verkyker hier meer nodig hê as daar. Duisende toeskouers en beamptes en leerders oostroom die terrain by Lowveld High en elkeen wil hul bloedjie op die paivljoen, baan of veld sien. Maar jy is voorbereid. Jy het, nadat jy die kinders afgelaai het, reeds vir jou ‘n plek onder ‘n koelteboom of op die paviljoen gekry en jy en jou verkyker gaan alles sien.
2. Sonskerm en afstersun: Vir die een of ander rede dink tieners “dis so nie cool nie” wanneer dit kom by sonskerm aansit. Jy, as volwassene, weet egter beter en pak dit steeds in hulle sakke hoewel jy na inter vir seker gaan hoor “ek het vergeet”. Dan is hulle bloedrooi en jy moet met die gebakte pere sit. Hier is waar die aftersun inkom. Let wel! Jy kan nie net aftersun koop nie ander gaan hulle jou blameer vir die brand.
3. Hidrasie: Die Laeveld is altyd warm. Altyd. Daarom is dit belangrik om baie te drink sodat jy nie dehidreer nie. Hoewel ‘n yskoue bier tien teen een eerste prys sou wees, is alkohol verbode en moet jy ongelukkig alle verversings by die venue self koop. Onthou dus geld en dra dalk ‘n pakkie Rehidrat in jou handsak saam.
4. Oorpluisies: By elke atletiekbyeenskoms kry jy die mammie wat in haar hakkies opdaag en langs die baan vir haar bloedjie staan en skree – sy gaan jou irriteer en nee, jy mag haar nie slaan nie. Kort-kort gaan iemand ook aan jou vasloop en die stam oor die luidsprekers gaan jou naderhand so frustreer, jy gaan wil skree. Probeer om oorpluisies saam te vat. As jy hulle insit kan jy die luidspreker en die mammie met die hakkies totaal uitskakel.
Probeer jou bes om te ontspan – dit is darem net een maal per jaar.
ALSO READ: ‘n Valentynsdag in die donker
