
Dit begin met ‘n krap in jou keel. ‘n Kuggie hier, ‘n hoesie daar. Daarna begin jou neus. Eers loop hy ‘n bietjie en raak hy al hoe meer verstop.
En dán, dan moker hy jou soos AB de Villiers ‘n bal in die Indiese Premierliga moker – hard en met mening.
Skielik klim jy drie trappe en kry dan nie meer asem nie. Jou kop klop en jou lyf voel soos dié van ‘n vet mens na sy eerste dag in die gym.

Dit is hoe jy weet jy het amptelik die Laeveldgriepverkoue onder lede.
In ons kantoor noem ek dit chroniese Ebola en dit is iets wat elkeen van ons tans het (spanwerk, jy sien).
Dié een kla oor sy ore, daai een se oë is rooi, en ‘n ander oor haar allergieë wat opvlam.
LEES OOK: Trek jou kruisie voor jy kla

En die ergste is, niemand word gesond nie. Want sien, net soos wat jy beter voel en die voëltjies se groet in die oggende jou nie meer mal maak nie, steek iemand jou weer aan.
En die bose kringloop begin van voor af. So asof iemand besluit het: “Lank lewe die Laeveldgriepverkoue.”

Dit maak my hartseer. En moeg. En ek mis dit om te kan ruik en proe en loop sonder dat dit voel of ek ‘n long verloor.
Al wat oorbly is om in die bed te gaan klim en te wag vir die einde.
LEES OOK: Die dag toe sir my kar se spieëltjie vir hom vat

