
Niks is beter as ‘n warm koppie sop nie. Dit laat my terugdink aan my ma se ou sopbekers met die verskillende groentes op.
‘n Broodjie dik gesmeer met botter en ‘n koppie sop is al wat jou sal lewendig hou en die kostes is heel aanvaarbaar.
Só ek het besluit om my sopresepte met julle te deel. Nie net myne nie, maar ook my moeder se goue resep wat ek al jare probeer namaak, maar vir een of ander rede proe dit nooit soos hare vir my geproe het as ‘n kind nie.

Hiermee deel ek die volgende resepte met julle:
Soetpatatsop met rooisoetrissiepuree
4 tot 6 preie, afgespoel en opgekap
Botter
450g soetpatats
300g aartappels
2 spruite fresh vinkel of ‘n knippie dragon
600ml hoenderaftreksel
250ml wit wyn
Sout en growwe swartpeper
Metode:
Verhit botter in kastrol en roer by gekapte preie. Bedek en laat stoom tot sag. Voeg oorblywende bestanddele by. Bede ken prut tot sag, omtrent 20 min. Verwyder die kruie en moes die sop. Herverhit, en pas die kruie aan tot smaak.

LEES OOK:Mans se speelgoed raak net duurder
Rooisoetrissiepuree:
1 klein ui, fyn gekap
1 groot rooisoetrissie, ontpit en gekap
200ml groente-aftreksel
2ml paprika
‘n Halflepel suiker
Tobascosous
Smelt die botter en stowe die ui tot deurskynend. Voeg oorblywende bestanddele by, bedek en laat vir omtrent 20 min. prut tot soetrissie sag is.
Vermoes, pas kruie aan tot smaak en herverhit. Skep sop in bakke en versier deur soetrissiepuree bo-oor te druis.

Mamma se groentesop
Dikribvleis (chuck)
Pak sopgroente
Uie
Sout en peper
Tamatiepasta
Blikkie groentesop
Pakkie dik groentesoppoeier
2 blokkies rissie-aftreksel
Metode:
Braai die vleis in bietjie olie tot dit bruingebraai is. Rasper die sopgroente saam in ‘n groot bak. Voeg water in die pot en bring dit na kook. Voeg groente saam by die vleis en kook tot sag.
Gooi die twee rissieblokkies in vir smaak. Gooi die blikkie sop, tamatiepasta, en groentesoppoeier saam in die pot. Voeg sout en peper saam na smaak. Geniet saam met lekker tuisgebakte vetkoek.

Smullekker brokkolisop
‘n Heel brokkoli
‘n Fyn gekapte ui
Botter om die uie in te braai
‘n Potjie hoenderaftrekseljellie
500ml kookwater
250ml room
3 eetlepels sjerrie
Sout en swartpeper
Metode:
Breek die brokkoli in stukke en spoel dit af. Braai die ui tot bruin en sag in die botter, voeg dan die brokkoli daarby. Braai saam vir n paar minute en voeg dan die aftrekseljellie saam met die warm water.
Laat effens indamp. Gebruik ‘n menger of klitser en maak alles goed fyn. Voeg dan die room by en laat dit kook. Gooi sout en peper in na smaak, en voeg ook die sjerrie by vir nog ekstra skop.
Die sopliefhebber in my het nou vir die publiek drie liplekkerresepte gegee om te probeer en weet jy, ek dink vanaand is sommer ook ‘n sop-aand vir my.
LEES OOK: Innibos-avonture van ‘n fangirl
