
Op 1 Maart 2018 het ek by my heel eerste grootmenswerk ingestap, hier by Laevelder. Ek was meer as 300 kilometer van my ouerhuis, meer as 500 kilometer van my Potchefstroomse alma mater, alleen en, belangrikste van alles, papnat gesweet.
Die hitte was vir my heeltemal te veel, maar nietemin het ek die oggend opgedaag vir werk, reg vir enige en alle avonture wat my ingewag het.

En watter ongelooflike avontuur was dit nie.
In my tydperk hier het ek verskeie glanspersoonlikhede en bands ontmoet. Ek sal nooit vergeet hoe ek eendag in die hof gesit het toe my foon gelui het nie. Ek het my foon oudergewoonte met ‘n “Arisa, hallo” geantwoord. Die antwoord kom toe: “Hallo Arisa, dis Lizz Meiring, hoe gaan dit?”
My maag het 17 bollemakiesies gemaak en my keel het droog geword. Sy wou gehad het ek moes vir haar iets in die koerant skryf oor ‘n vertoning wat sy by Innibos kom doen het.
Gepraat van, ek het ook twee Innibosse oorleef en ek kan getuig dat dit beslis die beste fees in die land is.
Ek het gesien hoe ‘n seekoei met ‘n pyl geskiet word en opgehys word, ek het in die Bat Hawk-helikopter gevlieg en ek het die voorreg gehad om soveel mense (en diere) se stories te vertaal.

Saam met die goeie avonture het daar natuurlik ook die sleg gekom. Ek is buite die hof geïntimideer en aangerand, in KaNyamazane is ek tydens ‘n protesaksie met traangas geskiet, lede van die publiek wou my ‘n paar maal dagvaar (maar dis nie nuus vir ‘n joernalis nie) en die hitte en humiditeit het my somtyds by die dood laat omdraai.
Eintlik is daar heeltemal te veel stories vir net een blog, maar die goed en die sleg het van dié jaar-en-‘n-halflange avontuur een van die onvergeetlikstes ooit gemaak.
So, baai-baai Laeveld, en baie dankie vir ‘n gemeenskap wat my toegelaat het om hulle stories te vertel en ‘n koerant wat my die voorreg gegee het om dit te mag doen.



























