Local news

Barberton-man vasgetrek na DBV-wenk oor beweerde dieremishandeling en bestialiteit

’n DBV-ondersoek in Barberton, ná ’n anonieme e-poswenk en video-bewyse van beweerde dieremishandeling, het gelei tot ’n klopjag op ’n nabygeleë plaas.

’n 59-jarige man van Barberton is in die vroeë oggendure op Jeugdag, 16 Junie, in hegtenis geneem op klagte van beweerde bestialiteit.

Die man is aangekeer nadat die Nelspruit DBV Saterdag ’n anonieme e-poswenk oor die beweerde voorval ontvang het. DBV-inspekteurs Lize Pienaar en Michelle Steyn het sedertdien ’n dringende ondersoek van stapel gestuur.

LEES OOK: Diewe steel hondekos by Barberton se DBV

Dade glo met reunhond gepleeg

Volgens Pienaar het die e-pos onder meer beweer dat die man seksuele dade met ’n reunhond pleeg.

“Die verslag het ook aangedui dat ’n teefhond aan seksuele mishandeling onderwerp is,” het sy gesê.

Die drie honde waarop daar beslag gelê is in Barberton. > Foto: Verskaf/Nelspruit DBV
Die drie honde waarop daar beslag gelê is in Barberton. > Foto: Verskaf/Nelspruit DBV

Video-opnames, wat glo deur die verdagte self geneem is en waarin hy seksuele dade met ’n hond pleeg, is ook aan die DBV oorhandig.

Lasbrief uitgereik

Op Maandagmiddag het ’n landdros in die dorp ’n lasbrief uitgereik om die perseel, ’n plot enkele kilometers buite Barberton, te deursoek. Tydens die klopjag is ses honde op die eiendom aangetref en deur die DBV in beslag geneem.

DNS-monsters geneem

Die diere is deur dr. Jan Paul Lubbinge, ’n DBV-veearts, ondersoek. Die polisie het ’n verkragtingstel (rape kit) beskikbaar gestel en DNS-monsters is geneem.

Die verdagte, wie se naam aan Laevelder bekend is, bly in aanhouding en sal na verwagting op Woensdag, 18 Junie, in die Barberton-landdroshof verskyn.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button