Nelspruit-stoeiers blink by proewe uit
Die afrigter van die die Nelspruit Stoei-akademie (NSA), Hansie Kruger het rede om breed te glimlag.

Hy kan met’n groep van 27 seuns spog wat die Mpumalanga Stoeivereniging by twee
geleenthede gaan verteenwoordig.
Ongeveer 172 stoeiers het sake op vier matte by die afgelope naweek se proewe in die Suid-Afrikaanse Jeugkampioenskappe by Curro uitgespook.
Die 17 junior stoeiertjies gaan die provinsie by die streekkampioenskappe, wat September in Newcastle plaasvind, verteenwoordig.
Die res van die groep gaan einde September aan die SA Jeug- en Junior Kampioenskappe in Bloemfontein deelneem.
Dié manne moet wel nóg twee oefen-kampe suksesvol aflê. Indien hulle nie slaag nie, kan hulle steeds uit die span onttrek word as hulle nie aan sekere standaarde voldoen nie.
“Dit is met trots dat ek kan noem dat daar dié jaar 27 NSA-stoeiers vir provinsiale kleure gekwalifiseer het. Dit het my verwagtinge ver oortref.
“Dit sluit die ses wat aan die SA- kampioenskappe in die Kaap deelgeneem het vroeër vanjaar, in.
“Die toernooi van die afgelope naweek was só suksesvol dat ons volgende jaar
weer die geleentheid gaan kry om die grootste toernooi van die provinsie aan te
bied.”
