Duane Vermeulen speel Saterdag sy 11de toets vir die Bokke
Die Springbok-reus, Duane Vermeulen (27) het Woensdag presies 'n jaar gelede sy debuut in 'n wedstryd teen Australië in Perth gemaak.

NELSPRUIT – Dié baldraer speel Saterdag in sy 11de toets vir die Bokke teen die All Blacks op Eden Park, Auckland.
Daniel Johannes is in die Laeveld gebore en getoë. Hy het as melkbaard vir die Pumas uitgedraf, en reeds hiér het hy sy stempel as yster afgedruk.
Jaco Breyl van Laerskool Nelspruit, het die 108kg-speler in die o/9- tot o/13-ouderdomsgroepe, in rugby en krieket afgerig.
“Duane was altyd die stil, rustige rugbyspeler, die gentle giant van die span.
“Hy was ‘n briljante kolwer – die een wat die groot houe kon speel as jy hom nodig gehad het.”
Op laerskool het Duane vanaf o/9 slot gespeel. Hy was baie beweeglik en is as ‘n vierde losvoorspeler gebruik. “Omdat hy een van die groter seuns in die span was, het hy die bal ontvang van ‘n tweede fase af. Ek het geweet as hy aanhou rugby speel, sou hy in die hoërskool regkom.” Jaco vertel dat Duane nooit kwaad op die veld geword het nie en altyd vriendelik teenoor sy medespelers was.
“‘n Paar jaar gelede het ek en vriende ‘n kragmeting tussen die Blou Bulle en die Stormers op Nuweland gaan kyk.
Duane het spesiaal gereël dat die spelers my trui teken. Hy het my na die wedstryd by ‘n restaurant ontmoet.
Sy nederigheid was nog altyd opvallend,” het Breyl gesê. Duane het ook in 1999 vir sy laerskool se eerste span uitgedraf. Bekendes soos Tobie Botha (oorlede), die seun van Darius Botha, en Wouter Watermeyer – die huidige Puma-senter, Stefan Watermeyer se broer – is van die spelers wat saam met hom in die span was. Die groentjies het daardie jaar die Laeveld- én Mpumalanga-liga gewen. Hulle het derde in die jaarlikse bondedag geëindig.
“Laerskool Nelspruit is baie trots op Duane Vermeulen en wens hom net die
beste toe.”
Sy hoërskool-breier, Johan Maartens het hom by die Cravenweek in 2004
afgerig. “Duane het as ‘n slot kom proewe speel en alhoewel hy in dié posisie
uitgeblink het, het ons gou agterkom dat hy baie meer as losvoorspeler sou beteken.
Na die eerste vriendskaplike wedstryd teen die Sharks, kon ons sien dat dié posisie die een is waarin hy sou floreer. Hy moes teen manne soos Deon Stegmann en Ashley Johnson wat bo hom in die verteenwoordige spanne gekies was, kompeteer.
Lojaliteit, hardwerkendheid en bereidwilligheid om te dien, is seker Duane se sterkste eienskappe, Ek dink dis hoekom hy is waar hy is.” Jos van Dyk het hom in o/14, o/15 en o/16 afgerig. “Belangrikste is sy nederigheid, lojaliteit en ‘anders’-wees as wat mense van baie jong en belowende sportmannne verwag en sien.” Regardt Meyer was Duane se eerstespan-breier. “In alle eerlikheid ek het nooit gedink hy sou ‘n Bok word nie. Ek het geweet hy sou goeie Curriebeker en SuperRugby speel, maar hy het nooit regtig gepraat asof hy beroepsrugby wou speel nie.
“Ons was die heel eerste span wat Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria kafgedraf het. Hy wou na skool na die wynlandgoed, Spier, in die Kaap gegaan het om ‘n sjef te word.”
Die Puma Rugby-unie het hom in 2005 genader. Twee jaar later het hy sy debuutwedstryd vir die Cheetahs se Vodacombeker-span gemaak en daarna is hy WP toe waar hy vandag nóg speel.
Duane se ma, Estelien, het Woensdag met hom gepraat waar haar seun vir haar
vertel het dat die hele span opgewonde oor Saterdag se wedstryd is.
“Hulle is lus om die Nieu-Seelanders te verwoes. Ons gaan saam met vriende die rugby in Hoedspruit op ‘n grootskerm kyk. Ek kon in sy stem hoor dat hy vreeslik baie na die wedstryd uitsien.”
